NewsNews

Besondere kerkmusiek-uitvoering dié naweek

Saterdagaand 17 Februarie kan inwoners van Vredefort en omliggende dorpe uitsien na die uitvoering van besonder luisterryke kerkmusiek in die NG Kerk Vredefort. Die afsluitingsuitvoering van die weeklange internasionale musiekseminaar Cantare e sonare, wat sedert verlede Vrydag by die Koepel Kunstesentrum op Deelfontein aangebied is, sal om 18:30 ’n aanvang neem. Die program wat Saterdagaand …

Saterdagaand 17 Februarie kan inwoners van Vredefort en omliggende dorpe uitsien na die uitvoering van besonder luisterryke kerkmusiek in die NG Kerk Vredefort.
Die afsluitingsuitvoering van die weeklange internasionale musiekseminaar Cantare e sonare, wat sedert verlede Vrydag by die Koepel Kunstesentrum op Deelfontein aangebied is, sal om 18:30 ’n aanvang neem.
Die program wat Saterdagaand in Vredefort se sandsteenkerk met sy uitstekende akoestiek aangebied word, is opgebou in die vorm van ‘n musiekgodsdiens.
Afgesien van die instrumentele tussenspele, wat die besondere klank van die barokinstrumente ten toon stel, is die werke so uitgesoek dat die tekste die tradisionele struktuur van ‘n mis volg.
So behou die komposisies hul oorspronklike sin as gewyde werke en verkry die uitvoering ook ‘n innerlike samehang.
Kaartjies is teen R100 by die deur beskikbaar.
Die internasionale musiekseminaar by Deelfontein is deur verskeie vooraanstaande kenners van Vroeë Musiek uit Oostenryk aangebied. Norbert Brandauer, die dirigent, lei verskeie ensembles in Salzburg en is ook een van die dirigente van die Weense Seunskoor. Die strykers word deur Ursula Sandbichler gelei, en die barokskuiftrompette deur Norbert Salvenmoser, professor aan die Mozar-teum in Salzburg. Frater Michael Anderl is verantwoordelik vir die continuoparte, en Andrea Anghisciano, virtuose kornetspeler van Italië, stel sy rare instrument voor.
Kerkmusiek het ’n lang en luisterryke geskiedenis in Europa.
Dit is geen oordrewe stelling dat die westerse kunsmusiek, wat onder andere die beroemde werke van komponiste soos Mozart en Beethoven voortgebring het, sonder die geleenthede en inspirasie wat deur die kerk gebied is, nooit sou ontwikkel het nie. Tot aan die einde van die baroktydperk was die oorgrote meerderheid van werke wat deur die meeste bekende komponiste geskryf is, kerkmusiek.
Tydens die seminaar op Deelfontein word ‘n program bestaande uit gewyde werke van onder andere Schütz, Schein, Monteverdi en Orlando di Lasso ingestudeer. Die musici kom uit Oostenryk, Duitsland, Suid-Tirool en Suid-Afrika en bestaan uit sangers en instrumentaliste, wat op oorspronklike barokinstrumente speel.  Meer inligting is beskikbaar op www.deelfontein.co.za

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button