NewsNews

Aapstreke maak inwoners woedend

Blouape wat al vir jare op die universiteit se kampus bedrywig is, het oor die Desembervakansie in die dam-area inbeweeg en amok gemaak. Volgens mev. Linda Ackermann het sy van vakansie teruggekeer net om te sien hoe ’n trop van die apies in die bome in haar straat ingetrek en amper alles verwoes het. “Ek… …

Blouape in die dam-area. Foto: Linda Ackermann

Blouape in die dam-area. Foto: Linda Ackermann

Blouape wat al vir jare op die universiteit se kampus bedrywig is, het oor die Desembervakansie in die dam-area inbeweeg en amok gemaak.

Volgens mev. Linda Ackermann het sy van vakansie teruggekeer net om te sien hoe ’n trop van die apies in die bome in haar straat ingetrek en amper alles verwoes het.

“Ek het die mooiste druiwe gehad, maar hulle het alles opgevreet. My vye en kannas is ook verwoes,” sê sy.

Sy sê daar is sowat 30 apies en kleintjies by dosyne. Een van die mannetjiesape het ook deur ’n ander inwoner se kombuisvenster geklim en dit was ’n groot gesukkel om hom uit te kry aangesien hy aggressief was.

“Hier is klein kinders wat hier bly en die mannetjiesape is aggressief en gevaarlik,” sê sy.
Ackermann sê sy het Natuurbewaring geskakel en hulle het toe ’n vanghok op haar erf kom neersit. Die hok was glo net groot genoeg om een apie op ’n slag te vang.

“Ek het gesit en kyk hoe 30 van die apies om die hok speel en rondhardloop, maar nie een het ingegaan nie.”

Na dit het sy nog nie weer van Natuurbewaring gehoor nie en die ape is steeds besig om die inwoners teen die mure uit te dryf.
Die vermoede is dat die apies van die weermagbasis se kant af gekom en hulself toe op die kampus begin tuismaak het.
Daar het hulle al deel geword van die alledaagse kampuslewe. Behalwe dat hulle asblikke uitgooi en glo al deur koshuiskamers se vensters geklim het, het hulle nog geen ernstige probleme veroorsaak nie.

In 2015 was daar planne om die apies op kampus te vang en na ’n ander habitat te verskuif, maar dit het nie gebeur nie.
Owerhede by die universiteit het ’n beroep op die studente en personeel gedoen om nie die apies te voer nie.

* Teen druktyd kon Parys Gazette se susterspublikasie, die Herald na verskeie oproepe nog nie in kontak kom met Natuurbewaring nie.

Related Articles

Back to top button