NewsNews

Eskom-skuld nou byna R759m

Die verslag van die Ouditeur-Generaal (OG) vir die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit vir die 2016/2017 munisipale finansiële jaar is verlede Woensdag deur die burgemeester, rdl. Joey Mochela, tydens ’n  spesiale raadsvergadering in Parys ter tafel gelê. Die munisipaliteit, wat die dorpe Parys, Heilbron, Koppies, Vredefort en Edenville bedien, het vir die betrokke jaar ’n  gekwalifiseerde ouditmening …

Die verslag van die Ouditeur-Generaal (OG) vir die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit vir die 2016/2017 munisipale finansiële jaar is verlede Woensdag deur die burgemeester, rdl. Joey Mochela, tydens ’n  spesiale raadsvergadering in Parys ter tafel gelê.
Die munisipaliteit, wat die dorpe Parys, Heilbron, Koppies, Vredefort en Edenville bedien, het vir die betrokke jaar ’n  gekwalifiseerde ouditmening met bevindinge ontvang. Volgens die verslag sluit die jaar af met ‘n verlies van R 191,6m, terwyl die munisipaliteit se laste sy bates met R 927,7m oorskry. Eskom-skuld het bly eskaleer en beloop byna R 759m. Daarbenewens het die munisipaliteit sy begrote uitgawes met byna R 80m oorskry, waarby oorspandering as ongemagtigde uitgawe aangeteken is.
Verder is bevind dat die wetlik vereiste verkryginsprosesse nie gevolg was sover dit aankope van meer as R102m aanbetref nie. Dié bedrag word gevolglik as onreëlmatige uitgawes aangetoon. Uitgawes van meer as R103m word as vrugtelose uitgawes aangeteken.
Hierdie uitgawes behels hoofsaaklik rente en boetes betaal weens versuim om skulde (onder meer aan Eskom) stiptelik te betaal. Nog meer skokkend is dat die OG bevind het dat soveel as 62% van elektrisiteit wat deur die munisipaliteit aangekoop word asook 54% van wateraankope, bloot verlore raak.
In reaksie hierop sê die Vryheidsfront Plus se rdl. Phillip van der Merwe dat laasgenoemde verliese veroorsaak word deur wanbetaling van krag- en waterverbruik deur verbruikers wat gewoond geraak het aan ’n kultuur van wanbetaling.
Volgens syfers vir die drie maande wat op 30 September 2017 verstryk het, was vir dié periode slegs 37% van alle elektrisiteitsverbruik per rekening gehef, betaal.
Vir water beloop die syfer 26%, vir rioolgelde 40%, vir vullisverwydering 28% en vir erfbelasting 56%. Pogings van die munisipale amptenare om die betalingskoerse te verbeter, was volgens hom sover sonder noemenswaardige sukses.
Die OG wys verder in sy verslag daarop dat verskeie wetlike voorskrifte met betrekking tot die finansiële state verontagsaam is. Die state voldoen volgens hom nie aan Artikel 122 van die Munisipale Finansieswet nie en is ook laat ingedien. Hy wys ook daarop dat die jaarverslag nie, sover dit munisipale prestasie aanbetref, aan wetgewing voldoen nie.
Verder meer is ‘n Oorsig Verslag nie volgens Artikel 129 van die Wet aan die Raad voorgelê en aanvaar nie.
Rdl. Van der Merwe het gesê dat hy gereeld waarsku dat meeste van die tekortkominge wat die OG in sy verslag vermeld voorsienbaar is en voorsien word, maar dat dit lyk asof amptenary eenvoudig nie oor die vermoëns beskik om dit betyds en effektief aan te spreek nie.
Volgens hom is ‘n nuwe hoof finansiële beampte, mnr. H. I. Lebusa, pas aangestel nadat die termyn van die vorige beampte verstryk het en sy nie vir heraanstelling oorweeg is nie. “Daar wag amper onoorkombare uitdagings op hom om die sinkende Ngwathe skip van ondergang te red, maar ek glo tog hy moet ’n  billike kans gegun word om homself te bewys” sê Van der Merwe.
Intussen is die slotsom waartoe die OG weens sy bevindinge kom, die volgende: “These conditions, along with other matters set out in note 48, indicate the existence of a material uncertainty that may cause significant doubt on the municipality’s ability to operate as a going concern and to meet its service delivery objectives.”
Die jaarstate en verslag van die OG moet nou aan ’n  publieke deelname proses onderwerp word.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button