NewsNews

Kinders se leesvermoë ook nou met Skooltassie-projek aangespreek

Die dreigende krisis in Suid-Afrikaanse kinders se leesvermoë word vanjaar deur Solidariteit Helpende Hand se Skooltassie-projek aangespreek. Dit volg na die organisasie bevind het dat 55% van behoeftige kleuters nog nooit ’n leesboek besit het nie. Helpende Hand het onlangs navorsing by ongeveer 60 skole gedoen om te bepaal wat die grootste behoefte is wat …

Die dreigende krisis in Suid-Afrikaanse kinders se leesvermoë word vanjaar deur Solidariteit Helpende Hand se Skooltassie-projek aangespreek. Dit volg na die organisasie bevind het dat 55% van behoeftige kleuters nog nooit ’n leesboek besit het nie.
Helpende Hand het onlangs navorsing by ongeveer 60 skole gedoen om te bepaal wat die grootste behoefte is wat die tassie hierdie jaar moet aanspreek. Die navorsing dui daarop dat slegs 45% van die skole se Gr. R leerders leesboeke by die huis het.
Daarom het Helpende Hand besluit om vanjaar ’n Bybelleesboekie in die tassie te sit sodat elke kind sy of haar eie boekie het. Die hoop is dat die insluiting van dié leesboekie reeds van ʼn vroeë ouderdom af kinders sal inspireer om te lees en daarmee hulle opvoeding ʼn hupstoot sal gee.
Volgens Margolé Riekert, projekorganiseerder van die Skooltassie-projek, het die tekort aan skryfbehoeftes breedvoerige gevolge op die opvoeding van kinders. “Hierdie tekort dra by tot swak leesvermoëns en moet daadwerklik aangespreek word indien daar ʼn verbetering in die leesvermoë van kinders gaan kom,” sê Riekert.
“Dit sluit aan by die Vordering in Internasionale Leesgeletterdheidstudie-verslag (PIRLS) wat gewys het dat 78% van Suid-Afrikaners in gr. 4 nie met begrip kan lees nie.”
“Die Skooltassie-projek is tweeledig. Op die korttermyn verlig dit ekonomiese druk regoor die land, maar op die langtermyn spreek dié projek leesvaardighede aan deur die leesboekie wat in die tassie is. Kinders moet kan lees om te kan leer.”
Die Skooltassie-projek poog om ʼn onmisbare bydrae in kinders se lewens te maak en behoeftige gr.1’s regoor die land in staat te stel om hul skoolloopbaan op gelyke voet met hul klasmaats te begin.
Die inhoud van die tassies sluit onder andere die volgende in: uitdraaikryte, ʼn legkaart, inkleurpotlode, grys potlode, ʼn liniaal, ʼn skerpmaker, ʼn skêr, ʼn uitveër, gom, pennesakkies en ʼn witbord met penne. Die waarde van die tassie met sy inhoud is ongeveer R380.

Related Articles

Back to top button