News

Rose maar nie kopers nie

Ry jy in Allenbystraat, val die pragtige snyrose in twee kweekhuis-tonnels op munisipale grond jou dadelik op. ‘n Projek wat kort na die eerste Free State/Madeira Flower Festival in 2016 vir Parys gevisualiseer is.  Hiervoor het die Vrystaatse regering ‘n hele R2,2 miljoen begroot. Die projek sou vier tonnels insluit, met naas die rose ook …

Ry jy in Allenbystraat, val die pragtige snyrose in twee kweekhuis-tonnels op munisipale grond jou dadelik op. ‘n Projek wat kort na die eerste Free State/Madeira Flower Festival in 2016 vir Parys gevisualiseer is.  Hiervoor het die Vrystaatse regering ‘n hele R2,2 miljoen begroot. Die projek sou vier tonnels insluit, met naas die rose ook ander blomme, sodat Parys, soos Bloemfontein waar ‘n soortgelyke projek is, kon voordeel trek uit die blomme-industrie.
In Januarie verlede jaar is begin bou en teen Augustus 2017 was vyf vroue (twee van Vredefort en drie van Parys) by die projek betrek waar ’n totaal van 1 000 Ludwig rose van vyf verskillende variëteite geplant is. Prentjiemooi om te sien. Nou, ’n  paar maande later, lyk dit of gebrekkige beplanning en bemarking, onvoldoende opleiding, oënskynlik geen mentor en formele eienaarskap vir die jong entrepreneurs, die sukses van die projek kan kelder as daar nie gou ingegryp word nie.
Boonop is die projek nie die enigste binne die Ngwathe grense waar miljoene spandeer is, maar wat na jare steeds nie op die been is nie – laat staan nog wins maak.
Ry jy op die Dover-pad kom jy by die plaas bekend as Wildehondekop, waar vier hoenderhuise staan, elk gebou vir 40 000 hoenders, en dit wat nog oor is van 20 kweekhuis-tonnels waar groente gekweek sou word vir die Hydroponics projek. Net die leë geboue verniel deur wind en weer, en die  raamwerk van die tonnels en gesmelte plastiek ná ‘n brand twee weke gelede,  is wat jy sien van die projekte wat nog nooit sedert ongeveer 2007 behoorlik van die grond af kon kom nie.
Selfs die kartondose met verkeerd-bestelde toerusting uit China, wat later weer vervang moes word teen nog koste, vertel ‘n storie op sy eie.  Nietemin pas drie sekuriteitswagte nog daagliks die geboue en tonnels op, en moes daar oor die jare al keer op keer weer spandeer word om die projekte te probeer voltooi en lewensvatbaar te kry, het Gazette betroubaar verneem.  Maar ook dit was sonder sukses.
Nou wil dit lyk asof die Parys Flower Project die gevaar loop om dieselfde paadjie te volg. Die vyf dames wat geherallokeer is vir die projek na hulle vroeër by die Tholwana Omgewingsprojek was, sê hulle is nie behoorlik opgelei nie. ‘n Eienaar van ‘n plaaslike kwekery het uit haar eie die vroue gaan wys hoe om rose te snoei en probeer help om in die dorp van die rose te verkoop.  Die vroue is nie  geleer hoe om insekbeheer te doen nie, en sê dat hulle sukkel met water om die rose nat te hou, kompos en die koelkamer.
Boonop is hulle oënskynlik ook nie geleer hoe om die projek te bemark nie. Hoewel die rose ‘n prentjiemooi gesig in die tonnels is, is daar nie kopers nie, omdat weinig mense weet dat hulle die rose verkoop teen R5 per roos of R50 vir ‘n bos van 15, sê die vroue.
Hulle vertel dat hulle wel rose verkoop het vir die 2017 Free State/Madeira Flower Festival, maar daar is steeds volgens hulle nie leiding om ‘n behoorlike besigheidsplan op te stel nie, of om weer te belê in die projek om dit selfgenererend te maak nie.  Van die vroue kom nie meer elke dag om te kom help nie, uit frustrasie met die probleme wat hulle het.
Die afgelope naweek is daar wel gehelp om die terrein skoon te maak en sê hulle dat die munisipaliteit  hulp belowe het. Maar die tyd raak min. Hierdie week sou daar  weer met die Departement Landbou gesels word wat tegniese ondersteuning vir die projek moet bied in ’n  poging om van die probleme aan te spreek.
Met die aanvanklike besluite wat in Oktober 2016 geneem is, sou Departement Landbou betrek word om onder meer te help met die gebou wat opgerig is, wat ‘n stoorkamer, koelkamer, kombuis, badkamers en kantoor insluit maar waar steeds nie veel gebeur nie. Die implementeringsagent van die projek moes toesien dat die vier tonnels opgesit word waarvoor
R850 000 begroot is. Die twee tonnels wat nog nie staan nie, kom volgens die vroue later en sal vir groente gebruik word.
Landbou is die eerste keer by die projek betrek toe mense gekla het oor ‘n sloot wat gegrawe is vir die kragkabel, en oor die water- en rioolkoppelings. Die aanbevelings wat Landbou gemaak het, is  nie gevolg nie. Hoewel beamptes van Departement Landbou  al probeer het om die probleme met die besproeiing en koelkamer op te los, is  daar skraal vooruitsigte vir sukses sonder behoorlike opleiding van die entrepreneurs en mentorskap.  Geen kommentaar van Ngwathe is teen druktyd ontvang nie

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button