NewsNews

Oostenrykers oefen vir koorkursus

In die tweede week van Februarie vind ’n  internasionale Vroeë Musiek-kursus by die Koepel Kunstesentrum by Deelfontein in die Vredefort Koepel plaas. Nagenoeg 40 buitelandse sangers en instrumentaliste sal betrokke wees. Die seminaar, Cantare e sonare, (Latyns vir sing en klink, met ander woorde, vir sangers en instrumente), word gesamentlik deur die Oostenrykse musiekvereniging met …

In die tweede week van Februarie vind ’n  internasionale Vroeë Musiek-kursus by die Koepel Kunstesentrum by Deelfontein in die Vredefort Koepel plaas.
Nagenoeg 40 buitelandse sangers en instrumentaliste sal betrokke wees. Die seminaar, Cantare e sonare, (Latyns vir sing en klink, met ander woorde, vir sangers en instrumente), word gesamentlik deur die Oostenrykse musiekvereniging met dieselfde naam, en die Koepel Kunstesentrum georganiseer, en word ook deur Suid-Afrikaanse sangers en Vroeë Musiek-deskundiges bygewoon.
Tydens die kursus wat 10 dae duur, word ’n  program van werke van onder meer Schütz, Schein, Haßler, Monteverdi en di Lasso ingestudeer, en ter afsluiting tydens twee konserte uitgevoer.
Om die ongeveer 15 werke op die program binne so ’n kort tyd konsertgereed te kry, verg ’n baie intensiewe oefenfase, en die musici sal daagliks ongeveer nege ure sing en speel.Sodat daar uit die staanspoor aan musikale afronding gewerk kan word, moet almal reeds voor die kursus voorberei. Ter ondersteuning hiervan het die afgelope naweek in Stams, Oostenryk, ‘n vooraf-oefennaweek plaasgevind. Die Suid-Afrikaanse deelnemers ontmoet komende Sondag om met die musiek kennis te maak.
Musiekinstrumente en opvattings oor hoe musiek uitgevoer moet word, het oor die eeue heen verander, soms redelik vinnig en drasties. Indien musiek, wat nie in ons eie tyd gekomponeer is nie, met moderne instrumente en stylvoorstellings uitgevoer word, kan die resultaat grootliks van die oorspronklike klankindruk afwyk.
Die Vroeë Musiek-beweging stel homself ten doel om, deur die gebruik van oorspronklike instrumente en die bestudering van geskrifte oor musiekuitvoering uit die tyd van die komponiste, musiek van vroeër tye uit te voer soos dit destyds sou klink. Die musiek hoef nie baie oud te wees nie. Selfs musiek van die vorige eeu kan by hierdie sensitiwiteit vir die konteks baat vind.
Hoe ouer die musiek – in die geval van die seminaar Cantare e Sonare ongeveer 300 jaar – hoe moeiliker word die rekonstruksie van die oorspronklike klank. Net die feit dat heeltemal ander instrumente destyds gebruik is, is reeds ‘n kompliserende faktor.
Hierdie skaars instrumente, soos barokskuiftrompette en kornette, is gelukkig vir die komende seminaar beskikbaar en sal tydens die twee uitvoerings, in Vredefort en Pretoria, gehoor kan word.
Besonderhede oor die kursus en konserte is op www.deelfontein.co.za beskikbaar, en op Facebook onder Dome Arts Retreat. Die uitvoering van die seminaar Cantare e Sonare in Vredefort vind om 18:30 op Saterdag 17 Februarie plaas. Dit is nie nodig om te bespreek nie. Kaartjies kan teen R100 by die deur gekoop word.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button