NewsNews

PAWS doen inspeksie by McLaren sirkus

PAWS (Potchefstroom Animal Welfare Society) het besluit om ‘n inspeksie te doen by die McLaren sirkus, wat vandeesweek hul karavane in Potchefstroom kom parkeer en, vir die eerste keer in ses jaar, vertonings by die Trimpark in Potchefstroom hou. Die koms van die sirkus het positiewe sowel as negatiewe kommentaar op sosiale media uitgelok, aangesien sommige… …

Karl Hildebrandt van die sirkus speel met twee van die jong leeus. Foto: Marianke Saayman

Karl Hildebrandt van die sirkus speel met twee van die jong leeus. Foto: Marianke Saayman

PAWS (Potchefstroom Animal Welfare Society) het besluit om ‘n inspeksie te doen by die McLaren sirkus, wat vandeesweek hul karavane in Potchefstroom kom parkeer en, vir die eerste keer in ses jaar, vertonings by die Trimpark in Potchefstroom hou.

Die koms van die sirkus het positiewe sowel as negatiewe kommentaar op sosiale media uitgelok, aangesien sommige Potchefstromers teen die gebruik van wilde diere in ’n sirkus is.

PAWS het Dinsdag ’n inspeksie gaan hou, aangesien sommige mense op Facebook die sirkus beskuldig het van dieremishandeling.

Elloise Rootman, ’n PAWS inspekteur sê dat hulle Dinsdag niks kon fout vind met die diere nie, maar dat hulle wou teruggaan om ’n meer intensiewe inspeksie te hou.

Vandag (18 Januarie) het Rootman teruggekeer saam met ‘n geakkrediteerde dier gedragsterapeut van Johannesburg, Michelle Moll. Moll het namens PAWS ‘n gedragsevaluering gedoen om vas te stel in watter emosionele toestand die diere is. Moll het na afloop van die evaluering gesê dat sy geen emosionele stres by enige van die diere kon vind nie. Rootman sê ook dat hulle niks fout kon vind met die inspeksie nie en dat alles in orde lyk.

Michelle Moll (regs) kyk na die kamele. Links van haar is die eienaar van die sirkus David McLaren en Karl Hildebrandt. Foto: Marianke Saayman

Michelle Moll (regs) kyk na die kamele. Links van haar is die eienaar van die sirkus David McLaren en Karl Hildebrandt. Foto: Marianke Saayman

Die Herald het ook die sirkus gaan besoek om te sien onder watter omstandighede die groot katte werklik gehuisves word.

Die tiere en leeus het hul eie kamp wat gekoppel is aan hul vervoerwa. Die diere kan dan kies of hulle buite in die son wil speel en of hulle eerder in die koel wa wil lê en slaap. Daar is ook genoeg koue water tot hul beskikking, en die tiere geniet dit veral om hulself in die water af te koel.

 

Die eienaar van die sirkus, David McLaren, sê dat hul diere almal baie goed versorg word en gereelde veeartsbesoeke kry om seker te maak dat hulle gesond is. Hulle kry ook genoeg kos en water, en hul pelse is in ’n baie goeie kondisie.

“Mense dink ons slaan ons diere om hulle toertjies te leer, maar dit is glad nie die geval nie. Ons maak gebruik van ’n beloningstegniek om die dier te leer om sekere dinge te doen. As die dier iets regkry, word hy beloon met vleis,” sê McLaren. Hy sê ook dat die diere glad nie iets doen wat die dier nie self in die natuur kan doen nie.

“Ons tiere hurk soms op hul agterpote, maar dit is iets wat tiere in die natuur doen wanneer hulle speel. Verder sit hulle, spring hulle, en doen dinge wat hulle geniet om te doen.”

Hy sê dat as ’n dier sukkel om ’n aksie te leer, beteken dit gewoonlik dat die dier dit nie geniet nie, en dan probeer hulle eerder om die dier iets anders te leer.

“Ons diere word glad nie mishandel nie. ’n Mens kan dadelik sien as ’n dier mishandel word, want dan is hy bang en aggressief, maar ons groot katte is liefdevol en spelerig.”

Dit kan duidelik gesien word wanneer een van die personeellede van die sirkus, Karl Hildebrandt met twee van die jong leeus speel.

McLaren Sirkus het 190 gratis kaartjies gegee vir kinders en personeel van Abraham Kriel Kinderhuis om Vrydag die vertoning te kaan kyk.

Vertonings vind plaas vandag om 19:00, Vrydag om 15:00 en 19:00 en Saterdag 15:00 en 19:00.
Kaartjies word verkoop by die kaartjiekantoor by die Trimpark. Kaartjies kos onderskeidelik R100, R130 en R150.

* Vir meer inligting oor die McLaren sirkus besoek hulle webtuiste by www.mclarencircus.co.za

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button