NewsNews

Afrikaans is ’n wonnerlike ding: Wat is ’n pornoster?

Daar is ’n groot verskil tussen die Afrikaans wat ons praat en die Afrikaans wat ons skryf. Is daar dan verskillende Afrikaanse? Ja, daar is. Kom ons begin by Praatafrikaans. Sê maar die dominee se naam is Jan. Geen ouderling sal in ’n kerkraadsvergadering sommer sê: “Ou Jannie, ek dink wat ou Kallie nou net …

Daar is ’n groot verskil tussen die Afrikaans wat ons praat en die Afrikaans wat ons skryf. Is daar dan verskillende Afrikaanse? Ja, daar is.
Kom ons begin by Praatafrikaans. Sê maar die dominee se naam is Jan. Geen ouderling sal in ’n kerkraadsvergadering sommer sê: “Ou Jannie, ek dink wat ou Kallie nou net gesê het, is ’n klomp bollie” nie. ‘n Kerkraadsvergadering is ’n formele byeenkoms en vereis daarom formele Afrikaans. Iets soos: “Eerwaarde Voorsitter, ek kan my nie vereenselwig met wat die vorige spreker gesê het nie.” Maar as die drie, wat jarelange vriende is, by die braaivleisvuur staan, kan die ouderling dit sê. Dit is ’n informele geleentheid en informele Afrikaans word gebruik. Hy sal dan sekerlik ook nie sê: “Eerwaarde Voorsitter, mag ek voorstel dat ek vir u ’n alkaholiese drankie aanbied,” nie. Hy sal sommer sê: “Jan, ek kry vir jou ’n dop.” Ons praat van die formele en informele registers van Afrikaans.
Nêrens anders word dit so goed geïllustreer as by aanspreekvorme nie. Die persoon wat daar voor sit in ’n hof, is “U Edele” of “Edelagbare”.
In gewone vergaderings is dit “Voorsitter” en in die parlement is dit “Speaker” (so genoem omdat daar vroeër nie skriftelik rekord gehou is van die verrigtinge in die Britse Hoër- en Laerhuis nie, en ’n  woordvoerder of speaker derhalwe aangewys is om die beraadslaginge aan die koning oor te dra.)
Daar is dus gebruiksreëls vir praat in Afrikaans en die situasie, formeel of informeel, bepaal ons aanspreekvorme. Die wonderlikste is dat ons nooit hierdie reëls geleer word nie – nie op skool of elders nie, ons leer dit deur Afrikaans te gebruik en te luister hoe ander Afrikaans gebruik.
Die meeste geskrewe Afrikaans is formeel. Dink maar aan kontrakte, koerante, tydskrifte, omsendbriewe en so meer. En vir hierdie soort Afrikaans bestaan daar baie streng reëls.
Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, byvoorbeeld, gee omvattende inligting oor en reëls vir die spelling van Afrikaanse woorde. Gewone briewe tussen mense is weer informeel. So ook die ‘getikte gesprekke’ tussen mense op Facebook en Twitter, byvoorbeeld.
Die verskil tussen Praatafrikaans en Skryfafrikaans is maklik. Ons sê ‘onner’ maar ons spel ‘onder’. Ons skryf ‘meisie’ en ‘lysie’, maar die ei en die y het dieselfde uitspraak. Ons sê tart en hant maar ons spel tart en hand. Ons sê: defnitief maar ons spel definitief. Daar is historiese redes daarvoor.
Maar kom ons vat ’n moderne voorbeeld. Die naam wat ons almal uitspreek as Liezel. Daar is heelwat wisselspellings van dié naam: ‘Lisel, Liesl, Liesel, Lizel, Liezl, Liezel.’ En omdat ons nie altyd skryf soos ons praat nie, het ons afgesien van letters, ook ander tekens nodig soos die deelteken en koppelteken. Ons gebruik die deelteken in byvoorbeeld ‘geïnteresseer’ en die koppelteken in ‘bo-op’ om die uitspraak van die woorde korrek weer te gee. Dit help natuurlik ook wanneer ons moet lees. Sonder die deelteken kan ‘diëte’ nie en sonder die koppelteken kan ‘wa-as’ nie. En wat van ‘koeksistensie’ en ‘poetiese?’
’n Klassieke voorbeeld waar ons in skrif ’n koppelteken moet gebruik om wat ons uitspreek weer te gee, kry ons in ‘ru-gare’ tenoor ‘rugare.’
En pornoster? Dis maar net ’n porno-stêr.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button