NewsNews

Vrystaat kan nie Dag Zero vir water bekostig nie

Vrystaatse munisipaliteite kan nie ʼn “Dag-Zero” vir water bekostig nie, en munisipaliteite en die provinsiale regering het ʼn verantwoordelikheid om toe te sien dat water so ver moontlik vir inwoners beskikbaar bly, sê Tammy Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse wetgewer. Sy sê dit is onaanvaarbaar dat swak tot geen instandhouding en hoë uitstaande skuld …

Vrystaatse munisipaliteite kan nie ʼn “Dag-Zero” vir water bekostig nie, en munisipaliteite en die provinsiale regering het ʼn verantwoordelikheid om toe te sien dat water so ver moontlik vir inwoners beskikbaar bly, sê Tammy Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse wetgewer.
Sy sê dit is onaanvaarbaar dat swak tot geen instandhouding en hoë uitstaande skuld aan waterrade, droogtegeteisterde dorpe se watertekorte vererger.
Wessels sê miljarde rand gaan verlore weens waterlekkasies, en vervalle watersuiweringsaanlegte wat die beskikbaarheid van skoon water bedreig.
“Die knellende droogte van die afgelope paar jaar in die provinsie plaas enorme druk op waterverbruikers en dit is die plig van provinsiale en plaaslike owerhede om ʼn vinger op die pols van gebrekkige waterhulpbronne in die provinsie te hou.”
Die VF Plus sal ʼn vraag aan die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Sisi Ntombela, rig om uit te vind wat haar departement doen om te verseker dat skaars waterhulpbronne in die provinsie gedurende droogtetye effektief bestuur word.
“Net soos inwoners die verantwoordelikheid het om water spaarsamig te gebruik, rus die onus ook op die departement en munisipaliteite om te verseker dat, selfs in droogtetye, water aan inwoners beskikbaar is.
Dit sluit onder meer in dat, waar nodig, waterbesparingsmaatreëls geïmplementeer word, maar ook dat die Vrystaatse regering en munisipaliteite verantwoordelikheid neem vir lekkasies weens stukkende pypleidings wat ʼn enorme hoeveelheid water verlore laat gaan, soos ook in Parys dikwels die geval is.
“Waar dit wil voorkom of die Kaapstadse metroraad nie behoorlik voorsiening gemaak het vir watertekorte nie, en krisisbestuur daartoe gelei het dat inwoners nie net water moet bespaar nie, maar ook nou meer moet betaal vir die gevolglike verlies aan waterinkomste, wil die VF Plus toesien dat dieselfde lot nie die inwoners van Vrystaatse munisipaliteite tref nie. Die VF Plus wil weet wat ons owerhede doen om “Dag-Zero” in munisipaliteite in die provinsie te voorkom.”
VF Plus-raadslede in die provinsie sal ook vrae hieroor by hul onderskeie munisipale rade indien om te verseker dat munisipaliteite hul grondwetlike verpligting om water aan inwoners te voorsien, nakom, sê Wessels.

Related Articles

Back to top button