NewsNews

Man draai by die dood om ná bye op hom en honde toesak

Terwyl ’n swerm bye hom herhaaldelik gesteek het, het Cassie van der Walt van Van der Merwestraat, Parys, sy eie lewe gewaag om hul honde na veiligheid te bring voordat hy uiteindelik self hulp kon kry. Cassie is op Dinsdag 2 Januarie met verskeie bysteke in ’n Vaalparkse hospitaal opgeneem en is eers op 6 …

Terwyl ’n swerm bye hom herhaaldelik gesteek het, het Cassie van der Walt van Van der Merwestraat, Parys, sy eie lewe gewaag om hul honde na veiligheid te bring voordat hy uiteindelik self hulp kon kry.
Cassie is op Dinsdag 2 Januarie met verskeie bysteke in ’n Vaalparkse hospitaal opgeneem en is eers op 6 Januarie ontslaan.
Sy vrou Louise vertel dat Cassie die dag alleen tuis was toe hy die honde hoor tjank  het. Cassie het dadelik besef daar’s fout en het na buite gehardloop.
’n Swerm bye was besig om die egpaar se 30 honde aan te val.
Ten spyte daarvan dat Cassie se been geamputeer is, het hy man-alleen begin om die honde huis toe te dra waar hy hulle kon toemaak om weg te kom van die bye. Van die groter honde het hy selfs op sy rug na veiligheid gedra. Met die gestoei om die honde te help, het Cassie geval en het die bye hom toegetakel. Sy selfoon het nat geword toe hy desperaat selfs met water probeer het om die bye te verjaag, en kon hy nie hulp ontbied nie.
Hy kon egter daarin slaag om sy buurvrou, Ria Bezuidenhout, se aandag te trek. Sy het sy hulpgeroep gehoor en die ambulansdienste ontbied.
Intussen het Louise, wat ook die eienaar van die Sjiek-hondesalon in die dorp is, die noodoproep van Ria gekry en haar na die huis gehaas.
“Dis was verskriklik. Hy’t net nog vir my probeer waai en gesê die honde en alles by die huis is reg. Niemand kon in die erf kom om hulp te verleen nie, want die bye was net té erg. Cassie kon daarin slaag om uit die erf te kom, waar die ambulanspersoneel hom kon help. Sy kennis as oud-brandweerman was sy behoud.”
Dr. Fouché Swanepoel en Attie van Niekerk het dadelik gehelp om die honde wat deur die bye gesteek is te behandel en kon al die honde, met die uitsondering van een wat dood is, gehelp word.
Louise het vir 23 jaar by die plaaslike DBV-tak gewerk en is bekend vir die groot passie wat sy het om mishandelde diere te help. Só het sy oor die jare terwyl sy by die DBV was, telkens wanneer sy uitgeroep was ná ’n geval van ’n  mishandelde dier, die dier versorg. Wanneer daar nie ’n geskikte tuiste vir die dier gevind kon word nie, het sy die diere self aangeneem omdat sy eenvoudig nie daarvoor kans gesien het om ’n  dier van kant te laat maak nie.
Die trane lê vlak in haar oë as Louise gesels oor die plek wat elkeen van hul diere in haar en Cassie se harte het, en die groot toewyding en liefde waarmee sy en Cassie na die diere omsien. Jy sien die ongelooflike trauma en vrees wat die egpaar beleef het op dié dag so kort na nuwejaar – ’n  dag wat hulle nooit sal vergeet nie.
Die Van der Walt-gesin sê baie dankie aan hul Hemelse Vader wat die gesin deur die tyd gedra het. Spesiale dank aan Gerard en Ria Bezuidenhout vir hul hulp, bystand en ondersteuning, dr. Fouché Swanepoel en Attie van Niekerk van Parys Dierekliniek vir hul hulp en behandeling van die gesin se dierekinders, Parys Sekuriteit, We Care, IMR Ambulansdienste, Parys-hospitaal en Vaalpark Mediese Sentrum. “Spesiale dank aan ons kinders,
Riaan, Joulande, Michael en Monique vir hul liefde en opofferings. Dankie vir al die gebede, oproepe en boodskappe. Dit word opreg waardeer,” sê hulle.

Related Articles

Back to top button