NewsNews

Welkom in Parys (7)

In die dae toe dominees nog huisbesoek gedoen het, kom die dominee by oom Jasper op die plaas. Die ou is skatryk, maak elke jaar geweldige mielieoeste en sy skape en beeste is vet. Dit gaan goed met oom Jasper. Maar ’n klaagpot van die eerste waters, is hy. As dit nie die droogte is …

In die dae toe dominees nog huisbesoek gedoen het, kom die dominee by oom Jasper op die plaas. Die ou is skatryk, maak elke jaar geweldige mielieoeste en sy skape en beeste is vet.
Dit gaan goed met oom Jasper. Maar ’n klaagpot van die eerste waters, is hy. As dit nie die droogte is nie, dan is dit die aalwurms of die snotneus of die runderpes of swak kalweroes, of roes, en so hou dit aan.
Maar hierdie jaar is ’n blomjaar. Geen siektes onder die vee nie, geen wurms in die mielies nie, g’n niks om oor te kla nie.
Na die huisbesoek loop die predikant en oom Jasper deur die mielies om darem vir die dominee ’n paar mieliekoppe te pluk.
Die mielies staan sterk en hoog en dra swaar aan die groot, gesonde mieliekoppe.  Dis toe dat die dominee skertsend opmerk: “Oom Jasper, daar is darem vanjaar niks om oor te kla nie. Alles gaan goed. Kyk net hoe groei hierdie mielies.”
“Ja,” sê oom Jasper en dink ’n rukkie na. “Maar dominee, dink net hoe put die mielies die grond uit.”
Partykeer as ek hoor hoe kla die mense van Parys oor allerhande goed in Parys, dink ek aan oom Jasper. Soos in elke stad en dorp is daar heelwat waaroor gekla kan word.
En toe sien ek Annabel Coetzer se pos op FB waaruit ek ’n gedeelte aanhaal: “Goeie naand almal. Gewoonlik wil ek nie betrokke raak by sulke dinge nie, maar ek wil graag vanaand net ietsie noem. Ek sien soveel klagtes oor die water, paaie, vullis en Mimosa onder andere.
Dit is ‘n hengse probleem ek weet, maar hier sit ‘n klomp ‘keyboard ninjas’ soos ek hulle noem wat net sit en kla die hele tyd en nie bereid is om self skouer aan die wiel te sit om probleme op te los nie.
Inteendeel hulle laat ons dorpie so sleg klink dat mense van buite dink die plek is afskuwelik wat glad nie waar is nie.
Ons sien elke dag die pragtige natuurskoon om ons en ons pragtige dorp maar ons waardeer dit nie. Inteendeel diegene van ons wat al etlike jare hier bly besef nie wat ons het tot ons mense van buite die dorp hoor praat oor hoe besonders mooi ons area is nie en dat hulle wat sal gee daarvoor nie …
Dankie vir diegene wat sommer self die vullis optel wat ander mense mors. Dankie vir die mense wat self die slote en slaggate opvul met grond en dankie aan ons buurtwag wat op eie risiko die donker aande aandurf.
Ek hoop net dat meer mense gaan besef die munisipaliteit en sy raadslede het nie ‘n saak met Parys, Tumahole of Schonkenville nie. Dit help nie ‘n mense smeek en soebat vir beter diens nie want dit gaan nie gebeur nie. Daar is ‘n groter kans dat ons as ‘n gemeenskap meer kan verrig as die munisipaliteit en bewaar wat ons het. Elke klein dingetjie sal help om ons dorpie beter te maak.”
En toe is daar as kommentaar twee juwele: Liné Geringer : ”Julle dorpie is pragtig, en ja as mens meer in die woonbuurte se strate ry sien mens gate, maar dit lyk nog goed teen ander plekkies. Parys is ‘n klein stukkie goud vir ons wat naweke graag kom kuier” en Naddy Claassen: “So bek kort jam! Dankie vir die mooi boodskap… ek is self al moedeloos oor almal se negatiewe kommentaar…. as hul maar net kan besef die plekkie is asemrowend mooi teen ander plekkies.”
Wat Parys verder lekker maak: hier is eintlik té veel om te doen. Hier is talle interessante winkeltjies wat jy kan deurloop, of jy kan in ’n lekker eetplek gaan sit en ontspan, of jy kan na een van die talle fantastiese vakansieoorde, wildsplase, kampeerplekke, visvangplekke ry, of jy kan net langs die rivier gaan sit en die ruimte indrink en jou verwonder aan die natuur en die heerlike kabbeling van die water. Dis alles hier by jou vir jou om te geniet. Jy hoef nie kilometers vêr te ry nie. Selfs al bly jy in ’n meenthuiskompleks of ‘n woonstel.
En Parys is groen. Nie vaal en verdor soos kwalik honderd kilometer suid van ons nie. Vir elke 20 mm reën wat ons kry, kry die Suid-Vrystaat 2 mm.
As jy soos oom Jasper soek na iets om oor te kla, sal jy dit maklik kry.
Maar partykeer moet ’n mens ook dinge soek waaroor jy dankbaar en bly kan wees. Daar is baie daarvan in Parys. Daar is net ’n tweeletter verskil tussen Parys en Paradys.
En hier is nie eers muskiete nie!
Welkom in Parys!

Related Articles

Back to top button