NewsNews

My pa het my liefde vir Kersfees gekweek

Deur Maryke van Heerden My pa was nog altyd ‘n lawwe, liefdevolle mens. Een wat sy eie liedjies opmaak, tot aansteeklik kinderlik raak oor Kersfees. My pa het vir 23 jaar by die munisipaliteit as hoof van die Ontwerp-afdeling gewerk. In die jare toe ek en my twee boeties redelik klein was, het die munisipaliteit …

Deur Maryke van Heerden
My pa was nog altyd ‘n lawwe, liefdevolle mens. Een wat sy eie liedjies opmaak, tot aansteeklik kinderlik raak oor Kersfees.
My pa het vir 23 jaar by die munisipaliteit as hoof van die Ontwerp-afdeling gewerk. In die jare toe ek en my twee boeties redelik klein was, het die munisipaliteit jaarliks met Kersfees ‘n Kerspatytjie gehou waar jou ouers dan vir jou ‘n geskenkie kon koop vir die spesiale dag.
Kersvader was darem baie innoverend. Hy is op ‘n brandweerwa aangery of bo op die stadsaal se dak net om ’n paar van sy streke te noem. Hierdie tyd was natuurlik vir my as snip (een van my menige byname in ons gesin) een van die lekkerste tye van die jaar. Die opwinding om Kersvader te sien tot om saam met die maatjies te speel.

My pa Gerard Uys saam met van die kinders wat verlede jaar geskenkies van die Herald se Kersprojek ontvang het. Foto: Dustin Wetdewich

Soos wat ek ouer geword het, soos enige kind maar, het ek belangstelling verloor, of altans net op die oppervlak. Die hele keep your cool ding om cool te wees, was groot toe ek grootgeword het.
My pa was nie een wat hom sou laat onderkry deur ‘n tiener se “image” nie. Hy sou al vroeg in die week ietsie hier en daar laat val oor Kersvader wat gaan kom. En op die Saterdag van die groot makietie was dit “all engines go” vir my pa, van hoe hy nou net Kersvader hier sien oorvlieg het tot hy gehoor het dat Kersvader se takbokke ‘n pap wiel gekry het. Hy het die opwinding deur die huis versprei en seker gemaak almal is lus vir ‘n lekker kuier saam met Kersvader.
Die fees was gewoonlik einde November en van daar af was dit Kersfees, Kersfees, Kersfees. My pa was nog altyd ‘n voorstander van familiekuiers, van elke Saterdag saam as gesin kuier tot groot geleenthede soos Kersfees saam met die hele familie spandeer. En om nie eens te praat van die kos nie. Jongie, die Uys-familie kan nie net lekker kosmaak nie, maar ook lekker eet. Glo my, dit wys in meeste van ons.
Maar buiten al die familie en munisipale Kersfees-herinneringe het my pa nog altyd so ‘n mooi hart gehad, nie net oor Kersfees nie, maar mens let dit net op Kersfees so ‘n bietjie meer op.
Hy sal mense help tot die beste van sy vermoë met die beste intensies waar hy kan (hy word nie verniet Kersvader genoem in ons gesin nie), maar dit is ‘n kwaliteit wat ek so admireer in hom en waarop ek trots is. Danksy my pa het ek ‘n persoon soos hy ook in my lewe, ‘n koelkop met ‘n groot hart en kinderlike liefde vir alles stout, wat veral so mooi deurkom noudat my pa oupa is en my man self ‘n pa is.
Maar hy het my liefde vir Kersfees ook gekweek, waaroor ek so dankbaar is, want hierdie tyd is nie ‘n tyd wat mens die jaar moet omwens en brom-brom op vakansie moet gaan nie, maar eerder saam met jou geliefdes spandeer en dankbaar wees dat hulle nog almal met jou is en gesond is of dankbaar wees vir wat hulle deurgemaak het en nog vir jou gespaar is. Hierdie tyd is ‘n tyd wat jy jou kinderlike liefde vir jou naaste moet vind, die liefde wat nie kwaad of ongeduldig raak nie maar lief te hê met ‘n ope hart. Dankie pa dat pa my hierdie waardevolle les geleer het.

Related Articles

Back to top button