NewsNews

Kerskonsert met Deo Gloria-koor ’n uitstaande musiekbelewenis

Wat ’n  voorreg was dit nie om weer eens op Saterdag 25 November die tweejaarlikse musiekkonsert onder leiding van Erna Rademan en Marli Küger te kon bywoon nie. Ek wonder of die inwoners van Parys, Vredefort en omgewing besef dat ons twee buitengewoon briljante en uiters begaafde musici in ons midde het. Hierdie tweede dames …

Wat ’n  voorreg was dit nie om weer eens op Saterdag 25 November die tweejaarlikse musiekkonsert onder leiding van Erna Rademan en Marli Küger te kon bywoon nie.
Ek wonder of die inwoners van Parys, Vredefort en omgewing besef dat ons twee buitengewoon briljante en uiters begaafde musici in ons midde het.
Hierdie tweede dames sal in enige stad of dorp in Suid-Afrika en in die buiteland beslis ’n stempel op die musiekwêreld afdruk.
Hulle pak die groot taak aan om kunstenaars en koorlede bymekaar te kry en hulle met hul entoesiasme te inspireer.
Elke kunstenaar wat opgetree het, was ’n  meester op sy eie gebied. Die blaaskwartet met hul puik aanbieding was genotvol op die oor. Elke solis wat opgetree het, se sang was van hoogstaande gehalte.
Die Bochabelo-jeugorkes het veral beïndruk met die entoesiasme waarmee hulle gespeel het. Die uitvoering van Gloria (F Schubert) saam met die koor, het my meegevoer.
Die orrelis, Werner Ferreira en Carlo Wright (trompet) het die gehoor betower met hul spel en Hava Nagila was beslis ’n  groot gunsteling.  Werner Ferreira se inleidings en tussenspel by die samesang getuig van besondere musikaliteit en aanvoeling vir die orrel, en maak hy op briljante wyse gebruik van die registers tot sy beskikking.
Die Deo Gloria-koor wat vir maande lank een maal per week in die aand Vredefort toe moes gaan om te oefen, verdien soos altyd ’n  pluimpie!
Vir my was dit bemoedigend om te sien hoeveel jongmense in die koor sing, en met hoeveel genot hulle deelneem. Hul gesigte en lyftaal het boekdele gespreek!
Elke item is met finesse aangebied. Dankie aan elkeen van julle! Ons waardeer jul moeite en opoffering. Wat ’n  heerlike belewenis was “Down by the Riverside” nie! Die gehoor en die koor het dit ewe veel geniet.
Roerend mooi was die aanbieding, “Stille Nag”. Saam met die pragtige konsertversierings en liggies was dit ’n  klein juweeltjie om die aand mee af te sluit.
Weer eens baie dankie vir jul harde werk. Mag die Here julle die krag en entoesiasme gee om voort te gaan met jul wonderlike liefdesdiens. Ons waardeer julle!
Ek gee aan elkeen die volgende woorde wat in een van die liedere, wat een van die kunstenaars gesing het, voorgekom het: “As jy elke dag gee, sal Kersfees langer duur. Vergeet van jouself, gee meer as wat jy voel. Gee Kersfees dwarsdeur die jaar.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button