NewsNews

Ace herkies te midde van woelinge in ANC-kringe

Die Vrystaatse premier, Ace Magashule, is Maandagaand in sy tuisdorp, Parys, op die vooraand van die ANC se nasionale konferensie dié naweek in Johannesburg, herkies as voorsitter van die ANC in die Vrystaat met 209 benoemings van die afgevaardigdes by die Vrystaatse provinsiale kongres. Sy teenstander, Thabo Manyoni, wat nie die kongres bygewoon het nie, …

Die Vrystaatse premier, Ace Magashule, is Maandagaand in sy tuisdorp, Parys, op die vooraand van die ANC se nasionale konferensie dié naweek in Johannesburg, herkies as voorsitter van die ANC in die Vrystaat met 209 benoemings van die afgevaardigdes by die Vrystaatse provinsiale kongres.
Sy teenstander, Thabo Manyoni, wat nie die kongres bygewoon het nie, het 25 stemme gekry. Manyoni ondersteun adjunk-president Cyril Ramaphosa in die nasionale leierskapstryd.
Die omstrede Vrystaatse provinsiale kongres  van die ANC, het Sondagaand na ure se wag, uiteindelik rondom 18:00 by Woodlands begin en Maandag ten einde geloop. Dit te midde van baie sterk polisie teenwoordigheid in die dorp.
Nagenoeg 650 afgevaardigdes het die kongres bygewoon waar gestem moes word vir ’n nuwe provinsiale uitvoerende komitee vir die ANC, is gesê.
Premier Ace Magashule staan eersdaags ook vir die pos as sekretaris-generaal van die ANC, en is die uitslag van die afgelope week se verkiesing by die provinsiale kongres deur kenners as van groot belang beskou.
Die Vrystaatse provinsiale kongres is
vroeër in groot omstredenheid gedompel ná ’n hooggeregshof beslissing gemaak is dat 29 takke in die provinsie se benoemingsvergaderings weer gehou moes word nadat dit ongeldig verklaar is.
Die vergaderings moes weer gehou word alvorens die kongres kon plaasvind.
Afgevaardigdes wat wel Sondag vir die kongres opgedaag het, het vir ure onder die koeltebome of in motors gewag vir die kongres om te begin.
Intussen het van die ontevredenes van die 29 takke wat deel was van die Vrystaatse hooggeregshofsaak, aangedui dat hulle hul na verwagting weer vandeesweek na die hof sal wend omdat hulle glo steeds nie tevrede is met die prosesse wat gevolg is nie.  Hulle wil onder meer die provinsiale uitvoerende komitee wat die ANC by dié konferensie verkies het, ongeldig laat verklaar, en die ANC in die Vrystaat verhoed om die naweek se nasionale konferensie by te woon.
Sou dit gebeur, sal ’n tussentydse komitee aangestel moet word vir die nasionale verkiesingskonferensie wat van 16 tot 20 Desember in Johannesburg gehou word.
Magashule het  egter gesê dat die provinsiale uitvoerende komitee wel aan die vroeëre hofbevel voldoen het vir die 29 takke om ’n  tweede rondte algemene vergaderings te hou voor die provinsiale kongres.

Related Articles

Back to top button