NewsNews

Dakke vou onder hael en stormweer

Plafonne wat uitsak, dakke en afdakke wat meegegee het onder die gewig van die swaar reën en hael en papnat matte, het kontrakteurs en assessors die afgelope week laat rondhardloop om stormskade by talle huise in Parys te herstel. Dit nadat ’n  haelstorm verlede Maandag en weer Saterdag die dorp getref het, asook aanhoudende swaar …

Plafonne wat uitsak, dakke en afdakke wat meegegee het onder die gewig van die swaar reën en hael en papnat matte, het kontrakteurs en assessors die afgelope week laat rondhardloop om stormskade by talle huise in Parys te herstel. Dit nadat ’n  haelstorm verlede Maandag en weer Saterdag die dorp getref het, asook aanhoudende swaar reën die afgelope week,
Teen Gazette se druktyd Dinsdag het die  reën nog onophoudelik geval en is daar van 1-5 Desember om 12:00 die middag reeds 106mm reën in Parys gemeet. Vir November was die reënvalsyfer in Parys 136mm. Van Januarie tot 5 Desember vanjaar is ’n  totaal van 828mm reën in Parys gemeet.
Een van die kontrakteurs met wie Gazette gepraat het, Johan de Villiers van JR Handyhands, sê dat van die oproepe wat hy ontvang het, onder meer ook van woonstelkomplekse was waar tot ses meenthuise herstelwerk nodig gehad het. Johan sê dat die storm sekere dele van die dorp swaarder getref het as ander  en dat skade meestal was by die plat gedeeltes van dakke wat weens die gewig van die hael meegegee het en water deur laste en plate laat stroom het, veral in sterk wind.
Baie probleme is ook veroorsaak deur verstoppings. Daar word geraam dat daar tussen 60 en 70 huise in die dorp is waar skade gerapporteer is.
Ook Parys Matte moes hardloop om voor te bly met matskade waar plafonne meegegee het, of water deur huise en besighede gestroom het.
By Parys Christelike Skool het ’n dak voor ’n klaskamer meegegee, met skade ten bedrae van R20 000. Ook by Najaarsrus was daar groot skade in die kliniek en twee gange waar van die bejaardes tydelik geskuif moes word om beddens droog te kry en droog te maak waar die water ingestroom het.
Die Vaaldam was teen Vrydag 77,3% vol, Barrage 96% en Bloemhofdam 76%. Verlede jaar dié tyd het die Vaaldam maar op 35,1% gestaan. Genade-reën ten spyte van skade.

By die Najaarstus Tuiste vir Bejaardes was daar ook groot stormskade.

Skade by die Parys Christelike Skool waar ‘n dak voor ‘n klaskamer meegegee het.

Related Articles

Back to top button