NewsNews

NWU Bestuur vra dat pers verwelkom word

Hoewel baie belanghebbendes soos huidige studente en alumni ongelukkig is met die Raad van die NWU se besluit om pers as primêre kleur te gebruik, blyk dit dat dié besluit nie gou verander gaan word nie. Hoewel baie belanghebbendes soos huidige studente en alumni ongelukkig is met die Raad van die NWU se besluit om …

Hoewel baie belanghebbendes soos huidige studente en alumni ongelukkig is met die Raad van die NWU se besluit om pers as primêre kleur te gebruik, blyk dit dat dié besluit nie gou verander gaan word nie.

Volgens Louis Jacobs, woordvoerder vaan die NWU, was dit deel van die raadsbesluit dat die universiteitsbestuur voortgaan met gesprekke met alle belanghebbers om inkoop en ondersteuning vir die nuwe kleur te verseker.

Hy sê dit moet beklemtoon word dat die geleentheid wat gegee is vir studente en alumni om vir hul gekose kleur te stem, nie ’n referendum was nie, maar eerder ’n poging om inligting in te win as deel van die konsultasieproses. “Die vraelys het ook oor baie meer gegaan as net ‘n kleur, maar ook wat beskou word as uniek van die NWU handelsmerk,” sê hy.

Prof. Dan Kgwadi het aan Beeld gesê die nuwe kleur word reeds gebruik en dit sal in 2018 sterk toegepas word. “Ons glo dat dit kort voor lank wyd herken en deur die meeste belanghebbendes en die publiek aanvaar sal word,” berig Beeld.

Prof. Fika Janse van Rensburg, adjunk visekanselier van die NWU en bestuurshoof van die Potchefstroomkampus, het op Facebook gesê hy ondersteun pers hoewel sy aanvanklike keuse ook die drie kleure (maroen, blou en groen) was.

“Ek het egter self tot die oortuiging gekom, deur eerlike self-ondersoek en deur oop-eerlike en intense gesprekke met kollegas en studente, dat die drie kampus-kleure té diep ingegraveer is in meeste van ons se harte en verstand. Ek kan nie maroen sien, en níé Potch/Puk dink nie! Dieselfde geld vir Vaaldriehoek- en Mafikeng-kollegas en -studente!

“Die behoud van die kampus-kleure, selfs in monolitiese vorm, sal ons eenheidskarakter, ons unitariteit as NWU, nie net teëwerk nie, maar kan dit selfs verongeluk,” het hy gesê.

Verder het hy gesê, “Uit my hart uit hou ek van die pers? Nee, nie my eerste keuse nie; ek hou van die maroen, en as ek darem die maroen kan behou saam met die blou en groen, is dit ‘n goeie tweede beste! Sal ek kan lief word vir die pers as die kleur van die NWU, gegewe die feit dat ons drie kampusse één universiteit geword het? Ja, ek sal kan lief word!”

Janse van Rensburg het gevra dat studente, alumni en personeel die pad sal neem om hierdie verandering te verwelkom en die saamvloei van die drie kampusse moontlik te maak.

Jacobs het verder gesê “as deel van die proses neem die NWU kennis van alle kommentaar, positief en negatief, en sal die universiteit dit in ag neem soos wat die proses vorentoe vorder.”

“Alle belanghebbers word verseker dat die NWU steeds ‘n tuiste is vir almal wat hier werk en studeer, en ook vir ons alumni wie se ondersteuning vir ons belangrik is,” het Jacobs afgesluit.

Kyk die video hier:

Lees ook:

Related Articles

Back to top button