NewsNews

Kapers ry met jong ma rond

SASOLBURG. – Terwyl drie mans, gewapen met ‘n mes, vir meer as ‘n uur met haar in Vanderbijlpark rondgery het, is al wat deur Mariska Guthrie (31) se gedagtes gegaan het, haar vyfjarige dogtertjie, Michaela, wat sy dalk nooit weer gaan sien nie. Mariska en haar dogtertjie, Michaela, aan wie sy heeltyd gedink het toe …

Mariska en haar dogtertjie, Michaela, aan wie sy heeltyd gedink het toe haar kapers met haar in Vanderbijlpark rondgery het.

Net na 11:00 op 14 November het Mariska gery om die Lotto geld van haar ma Rika se Lotto-masjien te gaan bank. Toe sy by die stopstraat in Baviaanskloofstraat stop, het drie mans skielik aan haar deure begin ruk. “Een van my agterdeure wil nie sluit as ek die ander deure sluit nie, en toe hulle aan die deur ruk, het hulle al drie agter in die voertuig geklim. Die een het ‘n mes teen my gehou en my beveel om aan te ry.”

‘n Entjie weg het die man vir haar gesê om na die passasierssitplek te skuif sodat hy agter die stuur kan wees. “Hulle het seker vir ‘n uur en 15 minute met my in Vanderbijlpark rondgery. Ek weet nie of hulle nie geweet het waar hulle is nie en of hulle rondgery het om te kyk of ek ‘n opsporingsstelsel in my kar het nie,” sê Mariska.

Hulle het daarna vir Mariska op die R57 afgelaai en weg- gery met die kontant en haar handsak in die voertuig. “Die Here was regtig goed vir my. Gewoonlik wag ek tot my dogtertjie van die skool af kom sodat sy kan saamry. Ek sit nooit my selfoon in my broeksak nie, want ek is altyd bang dit val uit en die skerm breek. Die spesifieke dag was my selfoon vir een of ander rede in my agterste broeksak en ek het besluit om te ry terwyl Michaela nog by die skool is.”

Na hulle haar afgelaai het, het sy probeer om die verbygaande voertuie se aandag te trek sodat iemand kan stop om haar te help, maar almal het net verbygery. Sy het eers bietjie later besef haar selfoon is in haar broeksak en kon haar ma bel om haar te kom help. Intussen het iemand wat sy ken by haar gestop en aangebied om haar huis toe te neem. Haar ma was egter nie bewus dat sy veilig is nie, en het ook probeer om voertuie te stop om te hoor of iemand haar dalk gesien het. Slegs een voertuig het gestop en die mense het aangebied om te help soek. Mariska se ma het haar gebel en die dame wat haar opgelaai het, het vir haar ma gesê sy neem haar huis toe.

Terwyl alles so deurmekaar was het Mariska se ma vergeet om die besonderhede van die mense wat gestop het om te help, te kry. Sy kon hulle egter nie laat weet dat haar dogter veilig is nie en wil graag vir hulle dankie sê.Mariska se voertuig, ‘n Polo, is vier dae later verlate in Vereeniging gevind, maar alles wat in die voertuig gesteel kon word, is gesteel.

 

Ek was regtig heeltyd bekommerd oor wat hulle aan my gaan doen. Ek het gedink vandag is maar my dag en ek gaan nooit weer my dogtertjie sien nie, maar die Here was goed vir my en het my veilig bewaar.”

 

Sy is nie ernstig beseer nie, maar het slegs ‘n paar snymerke aan haar arm. Sy sê ook dat dit al beter gaan en dat sy nie meer so erg getraumatiseerd is soos die eerste week na die voorval nie. Mariska se ma is egter steeds op soek na die mense wat by haar gestop het om te help en het die volgende boodskap aan Vaalweekblad gestuur:
Die man en dame wat op Dinsdag 14 Nov. gehelp het om my dogter te soek nadat sy gekaap is, kan jul my asb. kontak by 076 524 7030? Ek wil jul graag bedank. Uit drie voertuie wat ek genader het vir hulp, was julle die enigste wat bereid was om te help. Julle besef nie hoeveel dit vir my beteken het nie. Julle sal jul beloning by ons Hemelse Vader ontvang.

Related Articles

Back to top button