NewsNews

Siekte eis geliefde regsman en toneel-guru

“Waar nood, tekort, pyn en moedeloosheid was, het hy ingezoom en probeer om ‘n bydrae vir die positiewe te maak” Wyle Willem Pretorius en sy vrou, Christelle. Soos berig in Vaalweekblad van 22 November 2017 Retha Fitchat VANDERBIJLPARK. – Mnr. Willem Pretorius (58), ‘n Vaaldriehoekse regsman wat deur baie van sy vriende en geliefdes onthou …

Wyle Willem Pretorius en sy vrou, Christelle.

Soos berig in Vaalweekblad van 22 November 2017

Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Mnr. Willem Pretorius (58), ‘n Vaaldriehoekse regsman wat deur baie van sy vriende en geliefdes onthou sal word vir sy “groot gees, groot hart en groot glimlag”, het die afgelope naweek na ‘n lang stryd teen kanker gesterf.

Willem het in Sannieshof in Noordwes grootgeword en skoolgegaan voordat hy in die Regte aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer het en daarna weermag toe is. Hy en sy vrou, Christelle, het mekaar in Kaapstad ontmoet waar hy sy artikels gedoen het. Hulle is 1987 getroud, waarna hulle na Vanderbijlpark verhuis en Willem by die prokureursfirma De Klerk Vermaak en Vennote aangesluit het. “Willem was baie aktief in sake van die Prokureursorde en baie geliefd onder sy kollegas,” sê mnr. Chris de Wet van De Klerk Vermaak en Vennote. Willem, wat ‘n passie vir die welstand van Vaaldriehoekse gesinne gehad het, het vier jaar gelede sy eie praktyk tot stand gebring en gefokus op gesinsmediasie. Hy het gereeld praatjies oor mediasie en die Kinderwet aan groepe prokureurs in Johannesburg en Pretoria aangebied, maar was ook aktief betrokke by welsynswerk in die Vaaldriehoek. Hy het onder andere vir ‘n geruime tyd in die beheerliggaam van Ankerskool gedien.

Nóg een van sy groot liefdes was die teater en toneelkuns. Saam met die regisseur en drama-afrigter Suzanne le Roux is verskeie produksies soos Kringe in ‘n Bos plaaslik en ook op verhoë in ander dele van die land op die planke gebring. Willem sal ook onthou word vir sy aanbieding van Hans du Plessis se Griekwa Psalms saam met Sandra Stoker.

In 2004 is Willem met kanker gediagnoseer. Hoewel hy baie dae swaargekry het, was hy dikwels die een wat sy gesin en vriende met sy positiwiteit geïnspireer het. “Sy hart en passie was mense – oor die hele spektrum van die samelewing. Waar nood, tekort, pyn en moedeloosheid was, het hy ingezoom en probeer om ‘n bydrae vir die positiewe te maak. Hy het altyd in afhanklikheid van God geleef. Altyd staatgemaak op God se manier, God se tyd, God se wysheid,” sê sy vrou Christelle.

Willem het op 9 September ‘n beenmurgoorplanting – met sy seun Willem-Petrus as skenker, ondergaan. Die operasie was ‘n sukses maar infeksie het ongelukkig ingetree, wat uiteindelik Saterdag, 18 November, Willem se lewe geëis het. Danie du Plessis, ‘n bekende prokureur van Vanderbijlpark, skryf op Facebook dat Willem ‘n gedugte opponent in die hof was; ‘n gerekende kollega en gewaardeerde kennis as mens. “Ons sal jou mis Willem…”.

Suzanne le Roux, Willem se jarelange toneelmaat, sê sy treur oor hom maar voel bevoorreg dat sy Willem se positiwiteit en lewensvreugde kon leer ken deur hul jare van vriendskap, wat oor dekades gestrek het.

* ‘n Huldigingsdiens vir Willem is Maandag, 27 November in die River of Life Kerk in Vanderbijlpark gehou.

Willem en sy seun, Willem-Petrus, wat ‘n beenmurgskenker vir sy pa was.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button