NewsNews

16 Dae van aktivisme: Suid-Afrika kan nie koud staan teenoor die wyse waarop sy vroue en kinders behandel word nie

‘n Samelewing word gemeet aan die wyse waarop hy sy vroue en kinders behandel, en statistiek van die staat in hierdie verband, dui ongelukkig aan dat Suid-Afrika koud staan teenoor die wyse waarop dié weerlose deel van ons gemeenskap behandel word, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.   Adv. Alberts sê ʼn …

‘n Samelewing word gemeet aan die wyse waarop hy sy vroue en kinders behandel, en statistiek van die staat in hierdie verband, dui ongelukkig aan dat Suid-Afrika koud staan teenoor die wyse waarop dié weerlose deel van ons gemeenskap behandel word, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

 

Adv. Alberts sê ʼn samelewing wat geweld teen vroue en kinders toelaat, is op ʼn glybaan waar enigiets eindelik toegelaat sal word.

 

Hy het gesê vroue en kinders moet gekoester en beskerm word en daar moet indringend gevra word waarom die voorkoms van geweld teenoor hulle so hoog is en wat gedoen kan word om dit stop te sit

 

“Die vraag moenie wees waarom die statistiek so hoog is nie, maar waarom dit enigsins bestaan. Die oorsake van hierdie tipe geweld en mishandeling is terselfdertyd eenvoudig en kompleks. Eenvoudig omdat die oortreders nie bedreig en bang voel om die dade te pleeg nie, en kompleks omdat die oortreder dikwels self die slagoffer van geweld was.

 

“Oorsake is gegrond in gebrekkige polisiëring deur beide die polisie en die gemeenskap wat daardie onsigbare muur van moraliteit kan versterk deur afkeur en vervolging. Die komplekse oorsaak is te vinde in die wyse en plek waar ons opgroei. In Suid-Afrika in sy geheel is die gebruik van geweld op soveel vlakke aanvaarbaar.

 

“Ander invloede is die media by wyse van onder meer die internet, films, televisie, daaglikse nuus en advertensies, die invloed van ouers wat dalk self met geweld in die huishouding opgegroei het.

 

“Bogenoemde toon aan dat ons as gemeenskap nog altyd ondermyn is deur een of ander vorm van boelie-gedrag. Die kenmerk van ʼn afknouer is dat hy of sy onbehoorlike invloed of mag oor ʼn ander persoon het. Dit kan selfs ʼn land se regering wees. Eers wanneer ons dit raaksien en besef, kan dié houvas, en die kringloop van geweld, gebreek word.

 

“ʼn Goeie vertrekpunt tot ʼn oplossing in hierdie verband is om die kragte wat slagoffers kan beskerm, soos die polisie se kinderbeskermingseenheid, te versterk.

 

“Skep ʼn godsdienstige etos by skole om waardes soos respek aan te kweek en geestelike groei aanhelp en bemagtig gemeenskappe deur ʼn groter rol as waghond aan hulle toe te vertrou. Verwyder die remskoene vir ekonomiese groei en kweek ʼn gesonde en groeiende middelklas.

 

“Sulke stappe kan gesien word as ʼn beleggingspolis vir die toekoms. Daarsonder stap ons ʼn gevaarlike pad waar die Suid-Afrikaanse samelewing sal transformeer tot hel op aarde. Ongelukkig is dit reeds so vir baie vrouens en kinders in die land,” sê adv. Alberts.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button