NewsNews

Dokter eers twee ure later by pasiënt ná suster hom ontbied

Hospitaalrekords sou vandag in kruisondervraging  van Margaret Mafubedu, ’n  verpleegsuster van die Parys Distrik-hospitaal, lig werp op kritieke kwessies rondom die tydsraamwerk waarbinne Simon Jubeda en Samuel Tjixa op 6 Januarie 2016 na die Parys Distrik-hospitaal gebring en behandel is. Mafubedu het gister haar getuienis in die Hoë Hof in Parys gelewer in die saak …

Hospitaalrekords sou vandag in kruisondervraging  van Margaret Mafubedu, ’n  verpleegsuster van die Parys Distrik-hospitaal, lig werp op kritieke kwessies rondom die tydsraamwerk waarbinne Simon Jubeda en Samuel Tjixa op 6 Januarie 2016 na die Parys Distrik-hospitaal gebring en behandel is.
Mafubedu het gister haar getuienis in die Hoë Hof in Parys gelewer in die saak teen die 6 mans van Parys wat aangekla is op 2 klagte van moord ná die dood van Jubeda en Tjixa.
Die staat voer aan dat Boeta van der Westhuizen, sy seun Loedie van der Westhuizen jr,  Miela Janse van Vuuren, Anton Loggenberg en sy seun, Cor Loggenberg, en kapt Henk Prinsloo, glo die oorledenes sodanig sou aangerand het op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik, dat hulle kort na die voorval aan hul beserings in die Parys en Pelenomi hosptiale onderskeidelik beswyk het.
Die oorledenes is daarvan verdink dat hulle betrokke was by ’n  plaasaanval vroeër die dag by Boeta se pa, Loedie van der Westhuizen Sr.
Toe die hofsitting uiteindelik net na 14:00 vandag, Donderdag 23 November begin het, is die staat se beswaar teen die gebruik van die rekords voor regter Corné van Zyl geopper. Die staat het aangevoer dat vertroulike inligting van ander pasiënte op die rekords is, waarop regter Van Zyl die nodigheid dat die rekords wel in kruisondervraging gebruik moet word uitgewys het, veral nadat vorige getuies van die staat na die rekords verwys het. Sy het gevra dat vertroulike inligting dan toegemaak sal word.
Mantoa Lefatle, ’n  verpleegster by die Parys Distrik-hospitaal het Woensdag in haar getuienis gesê Samuel Tjixa is die oggend van 7 Januarie 2017 om 01:30 in ’n  algemene saal in die hospitaal opgeneem vir waarneming en sou later die oggend vir x-strale gaan. Sy toestand was stabiel maar hoewel daar ’n  rooi en oranjemerker op sy kleurkaart was, wat aandui dat die pasiënt se bloeddruk, asemhaling en polsslag nie normaal is nie, het sy nie die dokter geroep nie.
Adv. Dreyer wou by Lefatle weet waarom sy nie Tjixa meer gereeld gemonitor het nie, omdat daar reeds merkers vir hom was toe hy in die saal opgeneem is.
Volgens haar het Tjixa diep geslaap en nie gekommunikeer nie. Teen 04:00 was sy oë geswel, daar was ’n  bruin afskeiding uit sy neus, en sy bloeddruk was baie laag.
’n  Drup is toe vir hom opgesit. Teen 05:00 het Tjixa swaar asemgehaal en het sy ’n  suurstofmasker opgesit.
Lefatle het om 04:00 en om 05:00 dr S’fiso Nxumalo wat aan diens was, gebel oor Tjixa se toestand en gevra dat hy saal toe moet kom. Nxumalo het gesê dat hy besig is maar sal kom. Hy was eers om 06:00 by Tjixa en het hom toe dood verklaar, minder as 5 ure nadat hy in die saal opgeneem is.
tMafubedu, het Woensdag in haar getuienis gesê dat Jubeda ernstige kopbeserings gehad het. Hy was bewusteloos en is om 22:00 op 6 Januarie 2016 by die Parys-hospitaal behandel. Sy kop was geswel en sy oë heeltemal toegeswel.
Daar was ook ’n 4cm lange sny aan sy kop wat 3cm diep was. Hierbenewens was sy suurstofvlakke baie laag en is ’n lugwegbuis vir hom ingesit.
Daar is getuig dat dr Nxumalo wat albei pasiënte behandel het, die oop wond toegewerk het, antibiotika vir Jubeda ingespuit het, en dit ook met ’n  drup vir hom toegedien het.
Jubeda se Glasgow-komaskaal is aangeteken as 3/15 terwyl Tjixa ’n  telling van 14-15 gegee is.
Jubeda is na die Pelenomi-hospitaal oorgeplaas.
Dr. Nxumalo het Woensdag 22 November onder kruisondervraging erken hy het Jubeda en Tjixa net een keer volgens die Glasgow-komaskaal geëvalueer.
Dreyer het dr. Nxumalo daarop gewys dat ’n  pasiënt met ’n  kopbesering vir die eerste twee uur minstens elke 15 minute geëvalueer moet word sodat daar dadelik opgetree kan word as die telling sou afneem.
Volgens die telling wat Tjixa gekry het moes hy net geringe kopbeserings gehad het, het Dreyer gesê en wou weet waarvoor Tjixa die een punt verloor het waarop dr. Nxumalo geantwoord het dat die pasiënt nie verbaal kon kommunikeer nie.
In weerwil van die getuienis oor Jubeda se telling, het dr. Werner van Tonder wat Jubeda by die Pelenomi hospitaal se Trauma-afdeling ondersoek het, vroeër getuig dat die dokter aan diens by Parys-hospitaal telefonies gesê het die pasiënt se telling is 6/15. Op die hospitaalverslag van Parys-hospitaal is Jubeda se telling ook as 3/15 aangedui.
Van Tonder het aan die hof gesê dat hy nie die oorplasing sou goedkeur as daar aan hom gesê was dat die telling 3/15 is nie, omdat ’n pasiënt met dié telling reeds “basies breindood” is.
Dreyer het in sy kruisondervraging dit ook uitgelig dat ’n dokter aan diens ontbied moet word as een rooi of twee oranje blokkies by ’n pasiënt gemerk is soos by Tjixa die geval was reeds om 01:30. Ten spyte daarvan is die dokter aan diens eers om 04:00 ontbied.
Dreyer wou ook weet waarom daar geen aantekening is op Tjixa se verslag tussen 01:30 tot 04:00 om aan te dui dat hy gemonitor is nie.
Die hof het vroeër gehoor dat beide die beseerde mans deur polisiebeamptes na die hospitaal vergesel is wat op ’n stadium selfs verklarings by die mans wou afneem.
Die verhoor is nog net tot môre, 24 November op die hofrol, waarna dit na verwagting na middel volgende jaar uitgestel sal word.

Related Articles

Back to top button