NewsNews

Onderwyswet: Kenner praat oor bekommernisse oor voorgestelde wysigings

Kommentaar op die voorgestelde wysigings op die Onderwyswet het reeds gesluit nadat die nuwe Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys op 13 Oktober in die Staatskoerant gepubliseer is. Hierdie Wysigingswetsontwerp stel 46 veranderinge in die huidige wetgewing oor Basiese Onderwys voor. Verskeie onderwyskenners en belanghebbendes het reeds hul kommer oor dié veranderinge, wat ʼn groot impak op …

Kommentaar op die voorgestelde wysigings op die Onderwyswet het reeds gesluit nadat die nuwe Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys op 13 Oktober in die Staatskoerant gepubliseer is. Hierdie Wysigingswetsontwerp stel 46 veranderinge in die huidige wetgewing oor Basiese Onderwys voor. Verskeie onderwyskenners en belanghebbendes het reeds hul kommer oor dié veranderinge, wat ʼn groot impak op publieke skole sowel as tuisonderrig gaan inhou, uitgespreek.
In een van die wysigings word voorgestel dat die departementshoof publieke skole moet aanwys om meer as een onderrigtaal aan te neem na die inagneming van verskeie voorgeskrewe faktore soos die belange van die breër gemeenskap. Nog ʼn klousule stel voor dat die gedragskode van ʼn publieke skool voorsiening moet maak vir diversiteit wanneer dit kom by leerders se geloof en kultuur.
Nog wysigings stel voor dat slegs ʼn ouer van die skool wat nie ’n werknemer by die skool is nie, mag dien as die voorsitter van die skool se finansiële komitee, en dat onderwysers van ʼn publieke skool hul eie finansiële sake, sowel as dié van hul eggenoot of persoon wat saam met hulle woon (asof hulle getroud is), aan die hoof van die departement moet verskaf om so korrupsie te voorkom. Verder word sommige wysigings voorgestel oor die regte van die skool se beheerliggaam, soos dat die beheerliggaam nie meer ten volle in beheer sal wees van wie aangestel word by die skool nie.
Nog ʼn voorgestelde wysiging is dat skoolpersoneel leerders se skooltasse en sakke mag deursoek, nie net in groepe nie, maar individueel ook, om so alkohol- en middelmisbruik in skole te beperk.
Ouers wat tuisonderrig aan hulle kinders gee, word ook geraak. Klousule 52 stel voor dat kinders wat tuisonderrig van graad 10 tot 12 ontvang, gebruik moet maak van ʼn private of onafhanklike diensverskaffer om te registreer vir die Nasionale Senior Sertifikaat met ʼn private of onafhanklike assesseringsliggaam.Leerders wat tuisonderrig tot graad 12 ontvang sal ook deur hierdie diensverskaffers die finale matriekeksamen moet skryf wat opgestel word deur die Departement van Basiese Onderwys of die Onafhanklike Eksamenraad. Die eksamen moet ook gesertifiseer word deur Umalusi. Verder is daar voorgestel dat ouers wat hul kinders verhoed om skool by te woon, se tronkstraf moet verhoog na ses jaar, waar dit tans net ses maande is.
Prof. Elda de Waal, onderwysregskenner aan die NWU se Potchefstroomkampus sê dat sy bekommerd is oor van die wysigings en veral omdat ouers nie geraadpleeg is met die voorgestelde wysiging van hierdie wette nie.
“My bekommernisse lê by die beeld wat geskep word dat die insette van Suid-Afrikaanse ouers totaal geminag word in die gedeeltes van die wet wat oorspronklik deur hulle voorgestel is met die skryf van die wet tydens die vroeë en middel 1990’s, kort voor ons eerste demokratiese verkiesing,” sê sy.
Sy sê verder dat die voorgestelde wysigings die indruk skep dat skole wat wel tans effektief funksioneer, oorbelaai gaan word en gestraf gaan word omdat dit goed gaan by die skool.
“Wat van die Departement van Basiese Onderwys se plig om die skole waar dit nie goed gaan nie, en waar skoolbeheerliggame byvoorbeeld nie op die oomblik effektief as liggaam optree nie, in te gryp met intervensies en selfs opleiding aan te bied?” vra sy.
“Dit maak my bang om te dink daaraan dat swak-presterende skole se deure dalk eenvoudig gesluit gaan word sodat die minderheid skole wat tans die hele land se akademiese vlag dra, net voller gaan word en onder meer druk gaan kom wat die taal van onderrig en aanstelling van goed-opgeleide onderwysers betref.”

Related Articles

Back to top button