NewsNews

Blommeskouspel dié naweek in Parys

Parys is hierdie naweek gasheer vir die tweede Free State Madeira Flower Festival. Die vlotte-skouspel met vyf vlotte wat die onderskeie toerisme-roetes in die Vrystaat sal uitbeeld, sal Saterdagmiddag vanaf 14:15 in die dorp se hoofstraat gesien kan word met ’n kleurespel van derduisende blomme en dansers. Die optog sal beweeg vanaf die kruising van …

Parys is hierdie naweek gasheer vir die tweede Free State Madeira Flower Festival. Die vlotte-skouspel met vyf vlotte wat die onderskeie toerisme-roetes in die Vrystaat sal uitbeeld, sal Saterdagmiddag vanaf 14:15 in die dorp se hoofstraat gesien kan word met ’n kleurespel van derduisende blomme en dansers.
Die optog sal beweeg vanaf die kruising van Venus- en Waterstraat tot by die sogenaamde Container Park op die h/v St Jan- en Breëstraat, waarna die vlotte dan op die oop terrein op die h/v Van Coller- en Breëstraat sal staan. Mense sal langs Breëstraat na die blomme-skouspel kan kyk en paviljoene sal weer langs die straat aangebring word vir toeskouers.
Hoewel daar nie toegewysde parkeerruimtes  vir die fees is nie, word mense aangeraai om elders in die dorp te stop, gemaklike stapskoene aan te trek,  en ’n  staanplekkie langs die hoofstraat te kry vanwaar hulle die optog kan sien.
Inwoners word ook daaraan herinner dat die systrate wat Breëstraat kruis (veral St Jan-, Middel-, en Phillipstrate), by die kruisings met Breëstraat gesluit sal wees vir verkeer vanaf Vrydagaand 22:00 tot die optog en feesverrigtinge afgehandel is. Dit beteken dus baie beperkte toegang vir voertuie na die hoofstraat. Verkeer van veral swaarvoertuie sal reeds vanaf Vrydag via Loopstraat herlei word.
Daar word verwag dat die optog Saterdagmiddag ongeveer ’n  uur sal duur.
’n  Ernstige beroep word egter op die publiek gedoen om nie die blomme van die vlotte af te vat nie. Die blomme is reeds toegewys aan sekere welsynsorganisasies en sal ook aan mense in hospitale uitgedeel word, is gesê.
Die blomme op die vlot wat die Leeuroete uitbeeld, is onder meer toegewys aan Epilepsie Suid-Afrika en Sevengardens, twee plaaslike welsynsinstansies.
Kunstige blomtapyte sal soos verlede jaar Donderdag en Vrydag op die feesterrein uitgelê word. Vrydagmiddag se program begin met die kroning van Little Miss FS Flower om 15:00 op die feesterrein h/v St Jan en Breëstraat, asook Little Miss FS Flower wat die Muur van Hoop sal onthul. Musiek en ’n  wynproe is ook op Vrydag se program. Saterdagoggend om 11:00 word die fees amptelik geopen deur die Vrystaatse premier, mnr. Ace Magashule en die president van Madeira, Miguel Albuquerque. Die optog sal om 14:00 amptelik aangekondig word, waarna die vlotte en dansers vanaf 14:15 sal verbybeweeg in Breëstraat.
Sondag word Father Balinkstraat (vroeër bekend as Kruisstraat), amptelik geopen met ’n  lintknip-seremonie en onthulling van ’n gedenksteen ter ere van wyle Father Lewis Balink na wie die straat vernoem is. (Lees meer in hierdie week se Parys Gazette).

 

Related Articles

Back to top button