NewsNews

Plaaswerkers se verklarings gelees

Verklarings waarin plaaswerkers sê dat hulle ’n foto gewys is van die beseerde verdagtes op Fanie Oosthuizen se selfoon, en daar toe gesê is dat as jul stout is, maak ons so met jou, is vandag, Donderdag 16 November, in die Hoë Hof in Parys voorgelees tydens kruisondervraging van Fanie se broer, Johan Oosthuizen. Oosthuizen, …

Verklarings waarin plaaswerkers sê dat hulle ’n foto gewys is van die beseerde verdagtes op Fanie Oosthuizen se selfoon, en daar toe gesê is dat as jul stout is, maak ons so met jou, is vandag, Donderdag 16 November, in die Hoë Hof in Parys voorgelees tydens kruisondervraging van Fanie se broer,
Johan Oosthuizen.
Oosthuizen, nog een van die staat se 204-getuies, het Woensdag in die Hoë Hof in Parys voor regter Corné van Zyl sy getuienis gelewer in die verhoor van Boeta van der Westhuizen, sy seun Loedie van der Westhuizen, Miela Janse van Vuuren, kapt. Henk Prinsloo en Anton Loggenberg en sy seun, Cor Loggenberg. Al 6 is aangekla op twee klagte van moord na die dood van Simon Jubeda en Samuel Tjixa. Die staat voer aan dat die 6 na bewering die oorledenes op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik so sou aangerand het dat hulle kort daarna aan hul beserings beswyk het.
Die oorledenes is na bewering daarvan verdink dat hulle kort voor die voorval betrokke was by ’n  aanval op Boeta van der Westhuizen se pa, Loedie van der Westhuizen Sr van die plaas Biesiesbult ook in die Weiveld-distrik.
Oosthuizen is onder meer gevra of hy weet dat sy broer Fanie vroeër getuig het dat die Valke glo sou gesê het hy kan sy seun en broer help deur sy getuienis en dat hy enigiets kan sê, en hulle dit so sal aanvaar. Ook dat die Valke hom glo dieselfde salaris sou aanbied en in ’n getuie beskermingsprogram kon plaas. Oosthuizen het gesê dat hy nie weet wat tussen Fanie en die Valke gesê is nie
Die verdediging se adv. Nico Dreyer het verskeie vrae gehad oor die verskil in die weergawes van hoe die staat se 204 getuies se verklarings afgelê is.
Oosthuizen het Woensdag aan die hof vertel dat hy en Wian van der Westhuizen, Daniël Oosthuizen, en Muller van der Westhuizen besig was om n land oor te plant toe Fanie Oosthuizen wat reeds as 204 getuie getuig het, gebel het om te laat weet van die aanval op Loedie v.d Westhuizen Sr.
Hulle is na ’n  bloekombos waar vermoed is die verdagtes kon wees maar kon niemand kry nie. Hulle is daarna na Biesiesbult waar hy Loedie v.d Westhuizen Sr sonder n hemp gesien het met bloed aan sy kop en lyf. Terwyl hulle nog op Biesiesbult was het hulle gehoor dat die verdagtes gekry is en is hulle na die plaas Swartklip.
Oosthuizen het getuig hy het Loedie v.d
Westhuzen, Wicus van der Westhuizen, Muller van der Westhuizen, Daniël Oosthuizen, Wian van der Westhuizen, die Cilliers en Riaan Swart daar gekry.
Die twee mans wat aangekeer is het 5m tot 10m uitmekaar gesit. Oosthuizen getuig dat hy Loedie v.d Westhuizen Jr sou gesien het waar hy die korter verdagte skop en dat die man gekeer het.
Hy getuig Fanie het toe deur die draad geklim en gesê, stadig manne nie so erg nie.
Hy en Fanie is na die langer verdagte waar Fanie die man gevra het waar die wapen is wat hulle in die aanval op Loedie Sr gebruik het.
Die man het eers geantwoord dat die wapen weggegooi is, en toe dat daar nie’n  wapen was nie. Toe die man Fanie op sy naam noem het Fanie gelos en eers na Johan Cilliers gegaan.
Oosthuizen het getuig hyself het die man 1 keer geskop en ook dat hy een van die verdagtes opgetel het aan sy arm, 1 keer geslaan het met die vuis, en toe weer grond toe laat val het.
Hy sê hy het gesien Loedie en Miela klap en slaan die korter verdagte en skree vir hom waar die vuurwapen is.
Oosthuizen het voorts getuig dat een van die verdagtes sou gesê het dat hulle nie Loedie Sr aangeval het nie en net werk gesoek het. Loedie Sr het hulle toe glo met ’n  besemstok geslaan en dat die besemstok in die slanery teruggeskiet en só vir Loedie beseer het.
Hy getuig verder dat Boeta van der Westhuizen en Willem Coetzer saam op die toneel aangekom het. Oosthuizen getuig Boeta het ’n  rewolwer in sy hand gehad en op die langer verdagte gerig. Beide Muller van der Westhuizen en Boeta se dogter, Christa het geskree, “Nee Boeta nee!”
Oosthuizen sê nog bakkies met mense het gekom waaronder Anton en Cor Loggenberg.
Hy getuig Cor Loggenberg het die korter man gestormloop met n “oumanskierie” en hom ’n  harde hou op sy sy gegee. “Dit het geklink of die hout kraak as gevolg van die harde hou.” Hy sê ook dat Cor nog houe met die kierie na die man geslaan het op sy bors en beide sye.
Oosthuizen getuig Anton Loggenberg het met sy voet op die verdagte se kop getrap en wiegbewegings gemaak.
Oosthuizen het getuig hy en Daniël wou toe gaan kyk waar Fanie is sodat hulle kon ry.
Hulle het vir Wicus naby sy bakkie gekry en Loedie het aangestap gekom, uitasem en nat gesweet. Hy het ’n  vuurwapen aan hulle gewys en gesê dis hoe n wapen lyk wat in sy m**r is.
Volgens Oosthuizen het Miela toe verbygekom met ’n  bobbejaan spanner en bloedspatsels aan sy been wat hy gesê het die bloed van een van die verdagtes was.
Dr. Hendrik v.d Bergh, ’n  radioloog, het Woensdag getuig oor die beserings van een van die oorledenes wat na die voorval in die Pelenomi hospitaal se trauma eenheid opgeneem is.
Hy het soos die vorige medici wat na die getuiebank geroep is, getuig dat daar erge breinswelling en breinbloeding was wat moontlik deur stomp voorwerp trauma veroorsaak is. Daar was geen nek- of rugbeserings of skedelbreuk nie. Dr V.d. Bergh het gesê dat volgens die mediese verslae was die 37-jarige man waarskynlik reeds breindood en sou medikasie nie sy toestand kon verbeter nie.
Op’n  vraag van regter Van Zyl of die beserings versoenbaar sou wees met die getuies wat reeds in die hof gehoor is dat Anton Loggenberg op die oorledene se kop sou getrap en heen en weer gewieg het, het dr V.d Bergh gesê dat dit moontlik is maar hy meer breuke sou verwag het.
Die staat en die verdediging het met die aanvang van Woensdag se hofsitting dit op rekord geplaas dat kruisondervraging van die staat se getuies voortaan deur adv Dreyer hanteer sal word.
Die verhoor duur voort.

Related Articles

Back to top button