NewsNews

Ma se liefde gee vir seun nuwe lewe

Die 26-jarige Werner Knoesen lig sy hemp effens op om ’n lang sny aan die kant van sy maag te onthul. Die 26-jarige Werner Knoesen lig sy hemp effens op om ’n lang sny aan die kant van sy maag te onthul. “Hierdie is my getuienis litteken. My lewe is ’n getuienis van hoe goed …

Die 26-jarige Werner Knoesen lig sy hemp effens op om ’n lang sny aan die kant van sy maag te onthul.
“Hierdie is my getuienis litteken. My lewe is ’n getuienis van hoe goed God is,” sê hy. Sy ma, Alda, wys haar eie, soortgelyke sny, maar nie eers dié littekens kan die glimlagte op hul gesigte demp nie, aangesien Werner nou ’n tweede kans tot lewe gekry het.
Alda Knoesen is ’n lewende voorbeeld van ’n ma wat enige iets sal doen om haar kinders te beskerm. Toe hulle uitgevind het dat Werner ’n niersiekte genaamd membrane-proliferatiewe glomerulonefritis het, het Alda nie twee keer gedink om haar eie nier aan hom te skenk om sy lewe te red nie. Dit was wel nie baie eenvoudig nie, en het 10 jaar geneem voor Werner nou uiteindelik verlos is van dié siekte.
Werner was 16 jaar oud en in Hoër Volkskool toe hulle agtergekom het dat daar iets fout was met sy gesondheid. Hy het begin om gereelde moegheid, maagseer, kopseer en hoë bloeddruk te toon.
Hy is toe deur ’n dokter in Potchefstroom verwys na ’n nefroloog, wat vasgestel het dat Werner die niersiekte het en dadelik behandeling sal moet kry daarvoor. Hy het daarna weer baie siek geword en moes toe begin om dialise te kry, aangesien sy niere aanhou verswak het.
Werner het vir ses jaar lank drie keer per week vir vyf ure per dag dialise gekry. Sy enigste kans tot ’n normale lewe sou wees om ’n nuwe nier te kry. Sy ma het toe hy gediagnoseer is met die niersiekte, gevra of sy nie haar nier vir hom kon skenk nie. Aangesien sy hoë bloeddruk en cholesterol gehad het, was dit buite die kwessie. “Dit is jammer, want ’n ma is gewoonlik die beste moontlike skenker vir haar kind,” sê Alda.
Werner se pa wou toe ook probeer, maar die toetse het slegte nuus gelewer: dat hy prostaatkanker het. “Dit was gelukkig nog in die beginstadium van die kanker en dit kon vinnig behandel word. Toe hy gesond was en weer gaan vir toetse om te kyk of hy kan skenk, toe het hy nierstene,” sê Alda.
Nie Werner se ma of pa kon vir hom ’n nier gee nie, al wou hulle hul seun help. Ander familie en vriende het ook probeer, maar dit is ’n baie duur prosedure, en hul mediese fondse kon nie daarvoor betaal nie.


Werner moes toe op die waglys wag tot die regte skenker by hom uitkom, maar dit kon nog baie jare neem voor Werner ’n skenker kry. “Van die mense is al 15 jaar op daardie lys,” sê Werner.
Die gesin het toe na ’n nuwe dokter gegaan wat weer begin het om toetse op Alda te doen.
“Die eerste ding wat hulle vir my gesê het, is dat ek sal moet gewig verloor,” sê Alda. Alda moes 12kg verloor het voor hulle kon begin het met die toetse. “Ek glo maar net dat die hand van die Here in elke toets saam met ons was, want so het elke toets net vlot verloop en toe die uitslae uiteindelik kom, was die dokter tevrede en ek kon my nier vir my seun gee.”
Werner sê dat die realiteit van ‘n nuwe nier nog nie ingesink het tot die dag van die operasie op 18 Oktober nie. “Toe ek in die hoësorgsaal lê en weer bygekom het na die operasie, toe besef ek eers wat werklik gebeur het,” sê hy. “Dit is ’n wonderwerk want dit is waarvoor ek al my hele lewe lank nog wag.”
Werner het ook besluit om ten spyte van dié siekte, nooit te gaan lê nie. Hy het na skool sy eie besigheid begin en is ook besig om verder te studeer in Teologie, want hy wil graag die Woord van die Here verkondig, en sy eie verhaal aan mense wat moed verloor het vertel.
“Ongeag my omstandighede sal ek eerder vir iemand anders gaan bid.” Hy het hospitaalbediening begin en ’n wêreldwye WhatsApp-groep gestig waar mense 24 uur per dag ’n boodskap kan stuur, en iemand dan vir daardie persoon sal bid.
“Een van my grootste drome is om die Woord te gaan versprei,” sê hy.
Danksy Werner se uithouvermoë en die feit dat sy ma aanhou veg het om hom te help, kan Werner nou met sy nuwe nier, ’n nuwe, gesonde lewe begin en al sy drome najaag.
“Dankie vir elkeen in Potchefstroom se gebede die afgelope ses jaar. Nou kan Werner na ses jaar Kersfees hou sonder dialise,” sê Alda dankbaar.
Die gesin moet nog sowat R120 000 betaal vir die operasie, en het ’n fonds gestig vir skenkings om hulle te help om hierdie fondse bymekaar te maak. Die bankbesonderhede is: Werner Nier fonds ABSA Spaarrekening Rekeningnommer: 9306914978 Takkode: 632005

Related Articles

Back to top button