NewsNews

Elektrisiteitsverbruikers staar buitensporige verhogings in die gesig

Suid-Afrika gaan ‘n donker Kersfees ervaar weens menige munisipaliteite se wanbestuur en die feit dat hulle nie hul betalingsooreenkomste met Eskom nakom nie, sê Wouter Wessels, VF Plus-lid van die Vrystaatse provinsiale wetgewer.   Wessels het na afloop van ‘n gesamentlike finansiële komitee-vergadering in die parlement gesê weens Eskom se wanbestuur en munisipaliteite se hoë …

Suid-Afrika gaan ‘n donker Kersfees ervaar weens menige munisipaliteite se wanbestuur en die feit dat hulle nie hul betalingsooreenkomste met Eskom nakom nie, sê Wouter Wessels, VF Plus-lid van die Vrystaatse provinsiale wetgewer.

 

Wessels het na afloop van ‘n gesamentlike finansiële komitee-vergadering in die parlement gesê weens Eskom se wanbestuur en munisipaliteite se hoë uitstaande skuld aan Eskom, staar die elektrisiteitsverskaffer bankrotskap in die gesig en die enigste redding, volgens Nasionale Tesourie, is ʼn voorgestelde elektrisiteitsprysverhoging van 19%.

 

Hy sê dit is duidelik dat munisipaliteite in Suid-Afrika oor die algemeen onvolhoubaar is en dat die probleme nie weens ‘n tekort aan fondse veroorsaak word nie, maar eerder die gevolg is van swak bestuur en ‘n tekort aan politieke wil.

 

“Die voorgestelde elektrisiteittariefverhoging waarvoor Eskom by die Nasionale Energiereguleerder (NERSA) aansoek gedoen het, sal tot erge verarming en verhoogde wanbetaling lei.

 

“Die VF Plus beskou dit as onbillik en onaanvaarbaar dat betalende elektrisiteitsverbruikers gestraf word met onbillike tariefverhogings as gevolg van Eskom se wanbestuur.

 

“Menige munisipaliteit gaan tans gebuk onder beurtkrag weens wanbetaling aan Eskom en baie ander wat nie hul betalingsooreenkomste nakom nie, gaan binnekort ook donkerte ervaar.

 

“Maluti-a-Phofung (Harrismith) skuld nagenoeg R2 miljard aan Eskom en Matjhabeng (Welkom, Odendaalsrus, Hennenman, Ventersburg) en Emalahleni (Witbank) onderskeidelik nagenoeg R1.3 en R1.07 miljard.

 

“Suid-Afrikaanse munisipaliteite skuld hul krediteure meer as R43 miljard. Uitstaande debiteure van munisipaliteite beloop R128 miljard en die staat skuld munisipaliteite R7 miljard. Van die 19 munisipaliteite wat wel ‘n surplus toon, kom meer as die helfte nie hul betalingsooreenkoms met Eskom na nie.

 

“Daar is nie ʼn politieke wil en vermoë by munisipaliteite om hul fondse effektief te bestuur, om debiteure in te vorder en om geld wat geoormerk is vir infrastruktuurprojekte, doeltreffend te bestee nie. Daar is ook geen gevolge vir munisipale bestuurders en amptenare wat hulself aan wanpraktyke skuldig maak nie.

 

“ʼn Verdere skok is dat die regeringskuld aan munisipaliteite byna R7 miljard bedra, waarvan R363 miljoen en R362 miljoen onderskeidelik aan Emfuleni (Vereeniging, Vanderbijlpark) en Mafikeng in Noordwes verskuldig is.  Die regering dra dus aktief by tot die wanfunksionering van ons land se munisipaliteite.

 

“Dihlabeng (Bethlehem, Paul Roux, Rosendal, Fouriesburg), Mantsopa (Ladybrand, Tweespruit), Moqhaka (Kroonstad, Viljoenskroon, Steynsrus) en Nketoana (Reitz, Petrus Steyn, Lindley, Arlington), is van die munisipaliteite wat glad nie ondertekende afbetalingsooreenkomste met Eskom nakom nie. Ander sondebokke sluit in Modimolle en Mookgopong (Limpopo), Phokwane en Nama Khoi (Noord-Kaap), Naledi en Kgetelengrivier (Noordwes), Albert Luthuli en Govan Mbeki (Mpumalanga) en vele meer.

 

“Die ANC en die bestuur van hierdie munisipaliteite het geen erns met hul belangrike taak nie. Hulle is veronderstel om belastingbetalers waarde vir hul geld te gee deur toe te sien dat daar behoorlike bestuur, dienslewering en instandhouding van infrastruktuur is.

 

“Dit gebeur nie omdat kaders eerder die staatskas besteel. Die tekort aan politieke wil om behoorlike bestuur toe te pas, onbevoegdheid, kaderontplooiing en die algemene argeloosheid van die ANC het nou sy tol geëis op plaaslike regering en die verval is oral te sien,” het Wessels gesê.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button