NewsNews

Oor myntinins en lektrikils

  Liewe Persoon Pa se hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Behalwe miskien vir Ma se 19-voertsek Kenwood menger wat sy nog as ‘n trougeskenk gekry het (lees: 1970) Onthou jy dié menger se spoedknoppie het gelol, met die gevolg dat hy binne sekondes van ‘n koppie melk ‘n klont botter kon maak. Pa …

 

Liewe Persoon

Pa se hande het vir niks verkeerd gestaan nie.

Behalwe miskien vir Ma se 19-voertsek Kenwood menger wat sy nog as ‘n trougeskenk gekry het (lees: 1970)

Onthou jy dié menger se spoedknoppie het gelol, met die gevolg dat hy binne sekondes van ‘n koppie melk ‘n klont botter kon maak. Pa het die Kenwood uitmekaar gemaak en dit waarlik reggekry om die spreekwoordelike brieke aan te draai. Daar was net een probleem: daardie metaalmengbak het van daardie dag af jou stopsels los geskok! Dit was nie lank daarna nie toe het dié model op een van die rakke in die garage beland, kompleet met sy spatskerm, K-menger, klitser, deeghaak en spaanskraper. In sy plek het ‘n nuwe Kenwood gestaan. ‘n Witte…van plastiek. Pa was nie ‘n man vir elektrisiteit nie. Vir hout, ja. Vir yster en staal, ja. Vir enjins, ja.

Ek moet ‘n paar dingetjies by my nessie laat regmaak, en ek kom agter dat D.I.Y nie ‘n talent is wat vir almal van ons beskore is nie (tensy jy dit as Destroy It Yourself vertaal). Pa het dit so maklik laat lyk.  Maar die kalf is in die put en so begin ek soek na ‘n nutsman. Makliker gesê as gedaan.

Nou voor ek jou van my nutsman-nagmerries vertel, verstaan my mooi: ek is nie vol strooi nie. Ek weet wat ek gedoen wil hê én ek het ‘n goeie idee van hoe dit gedoen moet word – daarvan het my Pa seker gemaak.  Ek bedoel. Jy verf die nuwe hek met ‘n ordentelike onderlaag (red oxide) en daarna ‘n laag heavy duty olieverf. Jy maak seker dat die welding netjies afgeskuur word en nie soos ‘n vrag duiwemis teen die hoekpaal hang nie. As jy nuwe putty in die vensterrame sit, vee jy die venster skoon (en jy trap ook nie die hele bedding  Angel Wings dood nie). As jy die tuinslang gebruik het, rol dit weer op. En as dit te veel gevra is, draai ten minste net die kraan ordentelik toe!

Die belangrikste les wat ek tot op hede geleer het is dat jy nooit moet aanneem dat jy en jou gehuurde nutsman op dieselfde bladsy is nie. In fact: dit kan gebeur dat julle nie eens in die selfde genre is nie! So laat ek my voorhek verstel, want om die hek oop te kry het jy omtrent die jaws of life nodig. Lang storie kort. Nadat die hek, baie netjies, vervang is en na my spesifikasies geverf is, kom ek met ‘n skok agter dat ek nie eens met ‘n kruiwa deur die hek sal kan loop nie. Maak nie saak watter kant ook al jy die hekke oopstoot nie, dit gaan nie verder as ‘n skrefie oop nie. Die skarniere sit op die verkeerde plek! Ja, tot ek wat my brood in ‘n kantoor agter ‘n komper verdien, kan sien dat die mees basiese reëls van fisika nie hierdie equation kan en sal toelaat nie. Miskien sou ek nie so kwaad gewees het as die nutsman net sy fout erken het nie, maar nee! Dood – of ‘n stram voorhek, het altyd ‘n oorsaak. Hmph!

Gisteraand terwyl ek my vertrapte Angel Wings probeer vertroetel en om lewe smeek, merk ek iets op in die posbus. Ek kon nie anders as om te lag nie. Die liewe Vader het voorwaar ‘n sin vir humor. Daar staan ek met ‘n flyer in die hand, en dit lees:

Handy Man

Ek spesaliseer in:
– Swembadens
-Filters
-Pompe
– Myntinins
-Plaming
-Lektrikils
-Huis dake
EN MEER!

Nikse werk tegroot of teklein. Ale werk het ‘n 10jaar waarborg

Beskikbaar 24/7 dag of nag

Niemand bied my pryse nie

Nou ja. Ek reken dit is ‘n saak van skoenmaker hou jou by jou lees. Ek skryf vir ‘n lewe, daarom sal ek verby die foutjies op die flyer kyk. Want wat weet ek nou in elk geval van plaming, myntinins en letrikils?

Related Articles

Back to top button