NewsNews

Breinchirurgie sou nie ‘n verskil maak nie, sê dokter

Dr M. de Bruyn van die Universitas hospitaal in Bloemfontein, was Dinsdag 7 November, die derde getuie om te getuig in die Hoë Hof in Parys in die verhoor van die 6 mans wat tereg staan op klagte van moord na die dood van Samuel Jubeda en Simon Tjixa. Die verhoor het Maandag hervat. Die …

Dr M. de Bruyn van die Universitas hospitaal in Bloemfontein, was Dinsdag 7 November, die derde getuie om te getuig in die Hoë Hof in Parys in die verhoor van die 6 mans wat tereg staan op klagte van moord na die dood van Samuel Jubeda en Simon Tjixa. Die verhoor het Maandag hervat.
Die staat voer aan dat die beskuldigdes,  Boeta van der Westhuizen, sy seun Loedie van der Westhuizen (jr.), Miela Janse van Vuuren, kapt. Henk Prinsloo, Anton Loggenberg, en sy seun Cor Loggenberg, na bewering die oorledenes só erg op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik sou aangerand het, dat hulle later in die Parys en Pelenomi hospitale onderskeidelik aan hul beserings beswyk het.
Dr. De Bruyn is op 7 Januarie gekonsulteer oor behandeling van ’n  pasiënt wat van Parys hospitaal na die Trauma-eenheid van die Pelenomi-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas is. Die pasiënt was een van die oorledenes.
In haar getuienis het dr. De Bruyn die pasiënt se beserings volgens haar ondersoek en die radioloog se verslag na die CT skandering, beskryf as erge breintrauma en swelling van die brein en sagte weefsel, asook swelling van die hele skedel en gesig. Daar was nie nekbeserings nie.
Sy het die pasiënt as kritiek siek beskryf en gesê dat breinchirurgie nie ’n  verskil vir hom sou maak nie. Die skade van die breinbesering kon nie omgekeer word nie, het sy getuig. Haar bevinding was dat al wat gedoen kon word, sou wees om die pasiënt gemaklik te hou.
Op vrae oor die medikasie wat by Parys hospitaal toegedien is aan die pasiënt en moontlike effek wat dit sou hê op iemand met n breinbesering, het sy gesê dat by afwesigheid van beter sedasiemiddels soos wat by hospitale in Bloemfontein beskikbaar is, sy sou saamstem dat daar geen ander uitweg sou wees om dit toe te dien om die pasiënt te kon sedeer om n pyp in sy lugweg te plaas om die lugweë te beskerm.
Dr. Werner van Tonder, ’n  neuroloog van die  Pelenomi-hospitaal in Bloemfontein en Phembinkosi Xolani, ’n nooddienswerker van Vanderbijlpark, is Maandag deur die staat geroep om te getuig.
Die verhoor voor regter Corné van Zyl is tot 24 November op die hofrol geplaas.

Related Articles

Back to top button