NewsNews

Werner sterf drie dae na sy 14de verjaardag

Die familie bedank elke persoon en instansie wat hulle die afgelope twee maande tydens sy siekte en afsterwe bygestaan en ondersteun het Soos berig in Vaalweedkblad van 25 Oktober 2017 VANDERBIJLPARK. – Familie en vriende van Werner Pfahl (14), die jong seun wat in duisende se harte gekruip het, is Maandagaand, drie dae na sy …

Soos berig in Vaalweedkblad van 25 Oktober 2017

VANDERBIJLPARK. – Familie en vriende van Werner Pfahl (14), die jong seun wat in duisende se harte gekruip het, is Maandagaand, drie dae na sy 14de verjaardag, oorlede.

Werner is op 26 Augustus in die Kopanong-hospitaal opgeneem nadat hy die vorige dag begin hoes en ‘n hoë koors ontwikkel het. Hy is met dubbele longontsteking gediagnoseer en na die Cormed-kliniek oorgeplaas, waar hy onder meer dialise moes ondergaan omdat sy niere begin het om in te gee. Die virus het in sy bloedstroom beland en sy organe aangetas.

In die tyd het Werner ‘n paar terugslae gehad, maar elke keer het die klein vegtertjie deurgedruk. Werner is op 22 September na die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas waar hy die nodige toetse en skandering kon ondergaan sodat daar vasgestel kon word watter behandeling toegepas moet word. Die jong seun het op 28 September ‘n groot terugslag gehad toe hy begin het om bloed te hoes, sy hart gaan staan en longe platgeval het.

Mediese personeel kon hom egter weer bybring, waarna hy weer aan masjiene en ’n ventilator gekoppel was. Dit het stadig maar seker beter gegaan met hom en die familie is aanbeveel om hom in ‘n instansie te plaas waar daar na hom omgesien kan word. Hy is Maandag oorgeplaas na Els Medsorg in Meyerton, maar ‘n paar uur na sy aankoms is hy oorlede. Boodskappe van medelye en simpatie het op Werner se Facebookblad ingestroom en sy niggie Elaine het die volgende hartroerende Facebook-inskrywing geplaas: Werrie, hoe het ek gisteraand geweet dit sou die laaste soentjies wees wat ek jou kon gee… die laaste keer wat ek in jou ogies kan staar.. jou lewenslustige hartkloppie onder jou maer en bleek velletjie voel klop.

Jou voetjies soen en jou streel. My hande deur jou haartjies vryf en jou vertel hoe kosbaar jy is en hoe lief ons jou het… liefiekind … ons harte is in een miljoen stukkies.. net die Here weet hoekom… maar Werrie ons sal jou liefhê tot in ewigheid… jou skaterlaggie in ons harte voortleef… niks kan die seer of verlange beskryf nie. Vandag is als nog donker en rou hier binne ons… maar eendag …. eendag sal ons verstaan.

Werner is een van vier kinders. Sy suster Alicia is 16 en sy twee broers, Theuns en Johan is onderskeidelik 11 en 9. Hy was ‘n leerling aan Laerskool Vaalrivier. Werner se familie bedank elke persoon en instansie wat hulle in die tyd ondersteun het.

  AUTHOR

Carla du Plessis
Journalist/Photographer/Online content creator

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button