NewsNews

Twee sterf; plaasaanval in VS afgeweer terwyl talle in swart protes wys

Terwyl Suid-Afrikaners oor die land Maandag in swart met ’n  wekroepaksie saamgestaan het teen  die sinnelose moorde en plaasaanvalle waaardeur die land se boere geteiken word, is nog twee mense vermoor. Die bejaarde Bokkie Potgieter is vandag op die plaas Gelukstad by Vryheid in KwaZulu Natal vermoor. Potgieter het nie op die plaas geboer nie …

Terwyl Suid-Afrikaners oor die land Maandag in swart met ’n  wekroepaksie saamgestaan het teen  die sinnelose moorde en plaasaanvalle waaardeur die land se boere geteiken word, is nog twee mense vermoor.
Die bejaarde Bokkie Potgieter is vandag op die plaas Gelukstad by Vryheid in KwaZulu Natal vermoor. Potgieter het nie op die plaas geboer nie maar wel daar gewoon. Potgieter is na bewering met ’n  kapmes vermoor en toe kop eerste by die passasierskant van sy bakkie ingegooi wat die verdagte volgens berigte glo probeer steel het.
By Deneysville is mnr. Sarel Erxleben tydens ʼn gewapende roof in sy huis doodgeskiet.
In nog ’n  voorval is ’n  plaasaanval op die Pilcher-egpaar Sondagaand naby Marquard in die Vrystaat afgeweer, op die vooraand van die protesaksie.
Volgens Jan van Niekerk, Vrystaatse leier van die VF Plus, is hierdie bewys dat daar nie net by swart klere en optogte gebly kan word nie, maar dat daadwerklike oplossings vir die sinnelose geweld teen kwesbare lede van die samelewing nodig is.
Ook die VF Plus leier, dr. Pieter Groenewald, het gesê dat Suid Afrikaners in die algemeen en veral die kwesbare landbou-gemeenskap Maandag ʼn streep getrek het en met hierdie aksie ʼn duidelike boodskap aan die regering gestuur het dat die situasie nie onbepaald kan voortduur nie. “Die staat en sy wetstoepassingsagentskappe kom nie hul grondwetlike plig na om na die veiligheid van landsburgers om te sien nie.
Regoor die land het nie net boere nie, maar ook gewone landsburgers,aan die #SwartMaandag inisiatief deelgeneem nadat Chris Loubser, ’n  plaasbestuurder in die Franschhoek-omgewing, ’n  hartroerende video gedeel het ná die dood van die 47-jargie Joubert Conradie, ’n pa van twee en boer in die Klapmuts-omgewing tussen Stellenbosch en die Paarl.
Die aksie het Maandag verkeer op paaie tot stilstand gewing en verskeie griewe memorandums is oorhandig waarin onder meer ge-eis word dat ’n  einde gebring word aan die plaasmoorde en sinnelose bloedvergieting.
Net buite Parys het voertuie ook in ’n  stadige konvooi van sowat 2km op die Potchefstroom-pad langs beweeg na die Buffelshoek-polsiestasie waar ’n  memorandum oorhandig is en gevra is vir beter diens aan die gemeenskap ten opsigte van veiligheid, en interaksie tussen die gemeenskap en die polisie.
Terugvoer is gevra oor ’n onlangse moordsaak in dié omgewing en die hoë voorkoms van veediefstal wat talle boere hier raak.
Ná ’n  kort gebedsdiens is die groep weer vreedsaam uiteen.
Ook in Vredefort is ’n samekoms vir #SwartMaandag vanmiddag gehou met nagenoeg 90 voertuie en trekkers. Past. Juan Greeff het ’n  gebed gedoen en het die konvooi daarna vanaf die Viljoenskroon/Parys-pad kruising na Vredefort beweeg waarna die groep ná ’n  kort roete deur die dorp vreedsaam verdaag het.
Die Buffelshoek GPF sal volgende Donderdag 9 November sy maandelikse vergadering by die polisiestasie hou en is mense welkom om ook hier hul vrae te kom vra en voorstelle te maak.

Die foto’s gee ‘n blik van die aksies wat vanoggend en vanmiddag net buite Parys op die Potchefstroompad en in Vredefort gehou is, nie net teen plaasaanvalle nie, maar ook teen die sinnelose bloedvergieting in die land wat menselewens kos.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button