NewsNews

Wat maak jou troeteldier vet?

Dit is nie van te veel eet dat jou hond vet is nie, maar eerder van verkeerd eet.

Dit is nie van te veel eet dat jou hond vet is nie, maar eerder van verkeerd eet.
Volgens dr. Douw van der Nest, veearts by Centraal Dierekliniek, is die hoofrede van troeteldier obesiteit verkeerde voeding en nie die volume nie. “Dit gaan nie oor hoe baie hulle eet nie, dit gaan oor wat hulle eet,” sê hy.
Oktober is troeteldier obesiteitsmaand en aangesien obesiteit net so ‘n groot probleem by troeteldiere as by mense geword het, is dit belangrik dat troeteldiereienaars hul troeteldiere se gewig moet dophou. Troeteldier obesiteit is ’n landwye probleem, en dr. Van der Nest sê dat sowat ’n derde van die honde in Potchefstroom oorgewig is.
Oorgewig troeteldiere kan verskeie gesondheidsrisiko’s ervaar, waarvan die mees algemene gewrigsprobleme in die knieë, kruisband-ligamente, patella en baie algemeen in die heupe is.
Navorsing toon dat obesiteit ook kan lei tot diabetes, artritis, urinêre toestande, velprobleme, hartsiekte en selfs kanker, wat jou troeteldier se lewensverwagting aansienlik baie kan verkort.
’n Studie in 2012 het getoon dat vet honde nie vrolik is nie – hulle ervaar meer pyn en “emosionele stoornisse”.
Sowat 5% van die honde wat na Centraal Dierekliniek gebring word, is siek weens gewigsprobleme. Vet katte in Potchefstroom is ook volgens dr. Van der Nest ’n groot probleem.
Sekere honderasse is meer geneig tot obesiteit as ander. ’n Voorbeeld hiervan is labrador retrievers, aangesien hulle oorspronklik geteel is om saam met die visserbote uit te gaan en in koue water te swem, daarom isoleer hulle hulself. “So enige kos wat hulle inneem is geneig om in vet te verander,” sê dr. Van der Nest.
Om te bepaal of jou troeteldier oorgewig is, is maklik, voel net die ribbes.
“As jy nie die ribbes kan voel nie, is daar ’n vetlaag tussen die vel en die ribbes en dan is jou hond oorgewig,” sê dr. Van der Nest.
Jou hond se middel moet ook sigbaar wees. Die maag en die ribbes moet nie ewe breed wees nie, want dan is hy ook oorgewig.
As jy vasgestel het dat jou troeteldier oorgewig is, moet jy jou troeteldier se dieet verander en omsien na die artritis en inflammasie wat moontlik deur obesiteit veroorsaak is.
“Meeste mense kan net begin deur vir hul troeteldier dieetkos te koop,” sê dr. Van der Nest.
’n Groot getal van die ouer honde en katte het artritis, maar dit kan vermy word as jou troeteldier die regte kos eet, en ’n gesonde gewig is.
Om met jou hond te gaan stap is ook goed vir sy gesondheid. Honde en katte is karnivore wat eintlik kort afstande hardloop. Draf is nie so ideaal vir karnivore nie.
“Stap is goed en help die metabolisme, maar jy gaan nie ’n vet hond maer gestap kry nie,” sê hy.
Hy sê baie van die goedkoper hondekos bevat niks vleis nie. “Honde en katte is karnivore, hulle kan nie net leef van vet en plantproteïen nie.
Hierdie goedkoper kosse is geneig om lekker te wees, maar dit maak jou hond vet, maak nie saak hoe min jy hom daarvan voer nie.”
Dr. Van der Nest sê as eienaars onseker is oor of hulle die regte kos vir hul troeteldiere voer, moet hulle eerder hul veearts vra vir advies.

Related Articles

Back to top button