NewsNews

Skenkernier: Genadepad vir sanger Adam

Dit gaan beter met sanger Adam Barnard. Nadat nierversaking in 2016 by die eertydse Romanz-sanger gediagnoseer is, het dié Parysenaar ’n paar berge gehad om te versit. En nou, bykans twee jaar later, is daar ’n skenkernier vir Adam beskikbaar. Voorbereiding en toetse vir die nieroorplanting word tans gedoen, maar dit is ’n tydsame proses …

Dit gaan beter met sanger Adam Barnard. Nadat nierversaking in 2016 by die eertydse Romanz-sanger gediagnoseer is, het dié Parysenaar ’n paar berge gehad om te versit. En nou, bykans twee jaar later, is daar ’n skenkernier vir Adam beskikbaar.
Voorbereiding en toetse vir die nieroorplanting word tans gedoen, maar dit is ’n tydsame proses wat nog ’n paar maande kan neem.  Die datum vir die oorplanting sal eers bekend wees sodra al die toetse gedoen is.
Adam is op die waglys vir ’n “publieke” skenker, maar dié lys is baie lank en kan jare neem. Tyd wat Adam nie het nie. Daarom dat daar soveel dankbaarheid is oor die lewende skenker wat na vore gekom het. Nou word daar saam met die nefroloog gewerk om alle toetse gedoen te kry, waarna dit aan die Mediese Raad voorgelê sal word vir goedkeuring alvorens die operasie gedoen kan word.
Naas nierversaking is Adam vroeër vanjaar met neuropatie gediagnoseer – ’n  siekte wat jou senuweestelsel aantas en verdoof sodat jy gevoel in jou ledemate verloor. Vir Adam is dit 100% geneesbaar as daar vinnig gereageer word en die korrekte behandeling gegee word. Korrekte dialise speel ’n groot rol.
Adam kry tans agt ure lank dialise drie keer per week. Die langer dialise help om die neuropatie teen te werk wat hom van ’n rolstoel afhanklik gemaak het. Vroeër het Adam vyf uur lange dialise sessies gekry.
Nou gaan dit egter al baie beter met Adam.
Hy begin stelselmatig uit sy rolstoel opstaan en daar is selfs dae wat hy met sy loopraam stap om balans te herwin wanneer nodig. Eersdaags sal hy weer vyf uur dialise sessies ontvang.
Tegnologie en navorsing is reeds so gevorderd dat dit suksesvolle oorplantings makliker maak. Toetse en voorbereiding is egter baie streng voor, maar ook ná die operasie. Daar is baie selfsorg en nuwe verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan, maar “dit is geen prys teen die lewe wat jy ontvang nie.”
Intussen begin Adam stelselmatig weer optree en hou hy homself besig met musiek skryf en oefen op dae wat hy nie dialise ontvang nie.
Tyd saam met mense wat jy liefhet en om met jou kinders te kan speel, is vir baie vanselfsprekend. Genadegawes van lewe en gesondheid, maar wat nie vir almal beskore is nie. Ook vir Adam was tyd by die huis nog altyd kosbaar omdat sy optredeprogram so druk  was. Ná die afgelope jaar het tyd saam egter nog meer spesiaal vir dié gesin geword met verskeie krisisse wat oor hul pad gekom het.
Adam is vroeër vanjaar vir meer as vier maande gehospitaliseer. In Junie vanjaar het hy ook sy ma skielik in ’n motorongeluk net buite Parys verloor. Waar hy vroeër nie met sy dogtertjie Carmie (11 maande) kon speel en haar kon hanteer nie, is dit vir hierdie jong pa nou weer moontlik, namate hy sy kragte herwin.
Dankie aan elke Parysenaar wat die gholfdag ondersteun het wat vroeër hier by die Parys Golf & Contry Estate vir Adam en Bertus (’n kankerpasiënt) gehou is, om te help met hul geweldige mediese onkoste. “Weet dat elke bydrae, mense wat hard gewerk het om die dag moontlik te maak, en hulle wat gespeel het, opreg waardeer word deur die families. “Dit vat baie hande om van só ’n geleentheid ’n sukses te maak.”
Orgaanskenking is een van die kosbaarste geskenke van lewe wat jy vir iemand kan gee. As jy meer hieroor wil weet, skakel  0800 22 66 11,  of besoek die orgaanskenking webtuiste by www.odf.org.za.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button