NewsNews

Busdief nou vyf jaar agter tralies

VANDERBIJLPARK. – In plaas daarvan om agter die stuurwiel van ‘n gesteelde skoolbus te sit, gaan Braam Botha (46) nou vyf jaar agter tralies deurbring. Braam Botha (46) wat verlede week in die streekhof in Vanderbijlpark tot vyf jaar tronkstraf gevonnis is, nadat hy in Augustus die Laerskool Vaalrivier se skoolbus gesteel het. Vaalweekblad het …

Braam Botha (46) wat verlede week in die streekhof in Vanderbijlpark tot vyf jaar tronkstraf gevonnis is, nadat hy in Augustus die Laerskool Vaalrivier se skoolbus gesteel het.

Vaalweekblad het in Augustus berig dat Botha, die “innemende, vriendelike man” wat informeel terreinwerk by die Laerskool Vaalrivier gedoen het, sonder toestemming met die skool se “Valie-bussie” verkas het. Hy en die bussie het soos groot spelde verdwyn nadat hy die voertuig een Vrydagmiddag vir die naweek in ‘n veilige plek op die skoolterrein moes gaan parkeer. Daar was aanvanklik groot kommer omdat gevrees is dat Botha en die bus gekaap is en dat sy lewe in gevaar was. Gebedsgroepe is dadelik op sosiale media gestig om vir sy veiligheid te bid. Selfs nadat die skoolhoof, mnr. Henru Read, hom op ‘n kitskos-onderneming se geslotekring-televisie herken het waar Botha besig was om 80 hamburgers en 20 worsbroodjies op te laai, het baie inwoners van die Vaalriviergebied wat hom leer ken het, steeds geglo Botha is onskuldig en in lewensgevaar.

Hy het so ‘n oop, skoon gesig en is so lief vir Liewe Jesus. Hy kan so mooi bid. Ek kan nie glo dat hy so iets gedoen het nie,” sê een van die skool-ouers.

Die bussie is ‘n week of twee later onbeskadig deur die polisie in Kemptonpark gevind waar dit in ‘n straat geparkeer was. Botha is ‘n paar weke later ook in Kemptonpark opgespoor en in hegtenis geneem, waarna hy tot met die hofsaak verlede week, in die Leeuhof-gevangenis in Vereeniging aangehou is. Dit blyk nou dat hy reeds verskeie soortgelyke oortredings agter sy naam het, maar elke keer nóg ‘n kans deur die hof gegun is om homself te rehabiliteer en sodoende uit die tronk te bly. Die diefstal van die “Valie-bussie” was egter die laaste strooi, selfs al het ‘n bekende in Vaaldriehoekse welsynskringe, me. Selma Jonker, namens hom gepleit vir ‘n laaste kans. Dié keer was die hof egter ongenaakbaar.

Botha is op 15 Junie 1971 as een van sewe kinders gebore. Volgens van sy voormalige vriende, met wie Vaalweekblad die afgelope week op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, was Botha se kinderdae nie maklik nie, maar was hy danksy sy aangename persoonlikheid baie gewild by onderwysers en mede-leerlinge van die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg, waar hy gematrikuleer het. As skoolseun het hy veral in sport uitgeblink. Hy is daarna universiteit toe om hom as L.O.-onderwyser te bekwaam, maar het gou uitgesak. Sy grootste probleem, sê vriende, is dat hy op ‘n jong ouderdom aan dwelmmiddels verslaaf geraak het. “Alles – van crack cocaine tot CAT,” sê ‘n voormalige vriend.

Botha was intussen reeds by verskeie rehabilitasiesentrums, onder andere aan die Oos-Rand, in Noupoort en Hennopsrivier, maar het elke keer nadat hy ‘n tyd lank “skoon” was, weer in dwelmmisbruik verval.

Hy is soms letterlik van die straat af opgetel en deur toevlugsoorde of skuilings vir haweloses ingeneem waar hy hom as ‘n diep oortuigde Christen voorgedoen het. Almal het geval vir sy hartseerstories, soos dat sy suster besig was om aan kanker te sterf… maar sy suster is in Engeland en makeer niks,” sê ‘n vriend uit sy kinderdae.

Tussendeur het hy van skool-tot-skool gegaan en hom as ‘n L.O.-onderwyser of nutsman voorgedoen. Mense wat deur hom gekul is, sê hulle het agterna uitgevind hy is ‘n gewoonte-leuenaar wat mense maklik ‘n rat voor die oë kan draai.

Braam was in sy jonger dae glo twee of drie keer getroud. Hy het sy eerste voertuigdiefstal in Bela-Bela (Warmbad) gepleeg, waarna verskeie ander gevolg het. Selfs ‘n bekende restaurantgroep, waar hy ‘n goeie werk gekry het, het deurgeloop toe hy met geld uit die kasregister en hul bakkie verdwyn het.

“Hier is ‘n hele paar van Braam se ou vriende wat sy bene sal breek as hulle hom in die hande kry. Hy skroom nie om mense wat hom help, te bedrieg en te besteel nie. Baie mense kry hom jammer omdat hy nou in die tronk sit, maar hulle hoef nie. Hy is ‘n survivor en ‘n meester-manipuleerder. Ek glo hy gaan binnekort sommer die tronk se hoof-warden wees,” sê ‘n vriend wat na bewering ook deur Botha om die bos gelei is.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button