NewsNews

Grafskending: Dit is soos om beroof te word

Om by ’n  geliefde se graf te staan is reeds ’n  baie emosionele ervaring, maar as jy dan boonop moet sien hoe jou dierbares se graf of grafsteen geskend is, is ’n  hartseer wat jy nie kan beskryf nie. “Dit is soos om beroof te word.” Só het ’n  baie hartseer familie die afgelope week …

Om by ’n  geliefde se graf te staan is reeds ’n  baie emosionele ervaring, maar as jy dan boonop moet sien hoe jou dierbares se graf of grafsteen geskend is, is ’n  hartseer wat jy nie kan beskryf nie. “Dit is soos om beroof te word.”
Só het ’n  baie hartseer familie die afgelope week aan Gazette vertel nadat hulle in Parys se nuwe begraafplaas in die dorp se nywerheidsgebied, die skade moes aanskou van ’n geskende grafsteen.
Hul geliefde se naam, geboorte- en sterftedatum op wit graniet is eenvoudig verwyder van die swart-en-wit graniet grafsteen.
Met geen omheining om die begraafplaas en beeste wat gereeld grafstene omstamp en stukkend trap, lang gras en rooimiere, is die dorp se begraafplase nou eerder ’n skande as ’n  plek van herinnering.
Gazette het in Julie vanjaar ook berig oor die verwaarlosing by die dorp se begraafplase wat gereeld lyk of daar nie veel moeite gedoen word om dit te onderhou nie.
Toe het ’n  besoeker aan die ou begraafplaas langs die dorp se hoofstraat vertel hoe oorgroei die begraafplaas van kakiebos en lang gras is. Sommige van die grafte kan nie eens raakgesien word tussen die gras en bosse nie, het sy vertel.
In Februarie het ’n  inwoner van Parys ’n  foto op Facebook geplaas van hoe lank die gras in die begraafplaas was met grafstene wat skaars bo die gras uitgesteek het. Iemand het op die foto kommentaar gelewer en gesê dat dit jammer is dat plekke in die dorp wat vir inwoners belangrik is, so vervalle raak dat mense onveilig voel om die begraafplase te besoek.
Hoewel baie mense deesdae verkies om veras te word, juis oor die toestand van begraafplase, is daar ook mense wie se wens dit steeds is om begrawe te word.
Alvorens jy egter hierdie keuse maak wanneer jy geliefdes begrawe, moet mense gewaarsku word dat dit is hoe dit in ons begraafplase lyk, sê inwoners.

Related Articles

Back to top button