NewsNews

R112 miljoen se onreëlmatige uitgawes word oorweeg

Die Ngwathe-plaaslike munisipaliteit, wat Heilbron, Parys, Vredefort, Koppies en Edenville insluit, wil R112 miljoen se onreëlmatige uitgawes vandag op ʼn onwettige vergadering goedkeur, het Phillip van der Merwe, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit, gesê.    “Die munisipale bestuur verontagsaam wetgewing en die munisipaliteit se eie reëls en ordes ten opsigte van die kennisgewings en advertering …

Die Ngwathe-plaaslike munisipaliteit, wat Heilbron, Parys, Vredefort, Koppies en Edenville insluit, wil R112 miljoen se onreëlmatige uitgawes vandag op ʼn onwettige vergadering goedkeur, het Phillip van der Merwe, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit, gesê. 

 

“Die munisipale bestuur verontagsaam wetgewing en die munisipaliteit se eie reëls en ordes ten opsigte van die kennisgewings en advertering van vergaderings en gaan dus onverantwoordelik en buite die wet om met belastingbetalers se geld. 

 

“Die nuutste raadsvergadering wat byeen geroep is, is nie met die bepaalde 5 dae kennis, wat vir gewone raadsvergaderings geld, gedoen nie.  Dit is nie eers met 48 uur kennis, soos bepaal vir spesiale vergaderings, gedoen nie.  Dit beteken dat die vergadering, indien dit sou voortgaan, in effek onwettig sal wees. 

 

“Aangesien die sake op hierdie vergadering se agenda reeds voor 30 Augustus hanteer moes wees, is daar nie nou ʼn maand later skielik gronde vir dringendheid nie.  Die agenda bepaal dat die raad versoek sal word om nagenoeg R112 miljoen se onreëlmatige uitgawes goed te keur, wat ook in teenstelling met bepaalde wetgewing nie behoorlik deur die Artikel 32-komitee ondersoek is nie, want daar is nie ʼn volledige verslag oor die uitgawes gesirkuleer nie. 

 

“Dit is onaanvaarbaar om so lukraak met belastingbetalersgeld om te gaan en van die raad te verwag om buite die raamwerk van die wet sodanige uitgawes sonder die nodige verslae te oorweeg of goed te keur.

 

“Die VF Plus oorweeg regstappe om die munisipaliteit te dwing om aan sy eie reëls en ordes en ander munisipale wetgewing te voldoen. 

 

Dit is uiteraard ʼn skande dat ʼn liggaam wat verantwoordelik is vir die bestuur van ʼn ganse munisipale gebied deur die howe verplig sal moet word om aan sy eie reëls te voldoen,” het Van der Merwe gesê.

 

Related Articles

Back to top button