NewsNews

Stortingsterren-chaos

Die Ngwathe munisipale bestuurder, mnr. Bruce Kannemeyer en die tegniese direkteur, mnr. Thobela, het verlede week onderneem dat die gemors met onwettige storting langs die Dover-pad Maandagmiddag skoongemaak sal word, en dat die oorspronklike stortingsterrein wat al vir jare onbeheerd en ’n totale chaos is, voor einde November omhein sal word. Die munisipaliteit gaan ook …

Die Ngwathe munisipale bestuurder, mnr. Bruce Kannemeyer en die tegniese direkteur, mnr. Thobela, het verlede week onderneem dat die gemors met onwettige storting langs die Dover-pad Maandagmiddag skoongemaak sal word, en dat die oorspronklike stortingsterrein wat al vir jare onbeheerd en ’n totale chaos is, voor einde November omhein sal word.
Die munisipaliteit gaan ook glo sy lisensie vir die terrein wat al vir jare ongelisensieerd bedryf word, weer laat goedkeur.
Dit volg nadat DA-raadslid Saal de Jager (wyk 12) verlede Vrydag senior munisipale amptenare versoek het om dringend in te gryp in die chaos by Parys se stortingsterrein. Dit hou ’n ernstige gesondheidsrisiko in met rommel wat nou al vir kilometers voor die stortingsterrein langs die Dover-pad gestort word en besoedeling van die Ouderwerfspruit veroorsaak. Die spruit loop direk in die Vaalrivier waaruit Parys sy drinkwater onttrek.
Hierbenewens is daar ook lankal gevaarligte oor die rookbesoedeling by die terrein weens   die onwettige verbranding van onder meer plastiek en rubber, en kommer oor die veiligheid van die terrein vir mense wat vullis hier kom stort, maar ook hulle wat leef van die afval van die terrein.
Boere van die Weiveld-distrik neem reeds vir jare die inisiatief om die Dover-grondpad wat na die stortingsterrein lei, gereeld te skraap soos wat ook die afgelope week gedoen is.  Die inisiatief is te danke aan Viki van der Westhuizen, Kobus Dannhauser, Willem Coetzer, Pieter van der Westhuizen en Nelis van der Westhuizen. Juis daarom is tydens verlede Vrydag se vergadering met die munisipaliteit gevra dat dit nou nodiger as ooit is dat die munisipaliteit ook sy verbintenis sal gee om die chaos by die stortingsterrein stop te sit, en opruiming langs die Dover-pad onmiddellik te doen.
Daar is spesifiek gevra vir borde wat oortreders teen rommelstrooiing sal waarsku, en vir die aanstel van wagte om seker te maak oortreders se besonderhede word afgeneem sodat hulle deur die gereg vervolg kan word.
De Jager het die munisipale bestuur gevra om nuwe metodes van rommelbestuur te oorweeg, wat sal insluit dat inwoners hul afval tuis sorteer voordat hulle dit uitsit vir vullisverwydering, soos wat in ander dorpe en stede gedoen word. Die dorp se Ontwikkelingsforum het sy steun vir die DA se voorstelle gegee.
Die munisipale bestuurder het hom onomwonde tot onmiddellike stappe verbind. Teen laat Maandagmiddag is egter nog gewag vir die beloofde padskraper om die gemors langs die Dover-pad skoon te maak.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button