NewsNews

Aankoop van elektrisiteitsmeters ’n ‘noodgeval’

Die Ngwathe munisipale raad het verlede Donderdag ‘n verstommende R65 miljoen in onreëlmatige uitgawes gekondoneer, ten spyte van sterk protes, gelei deur rdl. Phillip van der Merwe (VF Plus). “Dit is uitgawes uit die 2015/16 finansiële jaar en moes wetlik meer as ‘n jaar gelede reeds voorgelê gewees het, “ het hy aan Gazette gesê. …

Die Ngwathe munisipale raad het verlede Donderdag ‘n verstommende R65 miljoen in onreëlmatige uitgawes gekondoneer, ten spyte van sterk protes, gelei deur rdl. Phillip van der Merwe (VF Plus).
“Dit is uitgawes uit die 2015/16 finansiële jaar en moes wetlik meer as ‘n jaar gelede reeds voorgelê gewees het, “ het hy aan Gazette gesê.
Van der Merwe meen die vertraagde indiening tel onder verskeie onlangse wetlike versuim deur Ngwathe se hoof finansiële beampte, me. Samyala.
“Die persoon verantwoordelik vir ’n on-reëlmatige uitgawe is persoonlik daarvoor aanspreeklik, en is onderhewig aan dissiplinêre en kriminele stappe, tensy die raad na voorgeskrewe prosesse dit onverhaalbaar bevind en afskryf,” sê hy.
Hy sê hierdie prosesse is verlede week nie gevolg nie, en ‘n besluit om die uitgawes sonder meer te wettig, is in die Raad deur die ANC deurforseer, ten spyte van sy sterk protes.
Alle uitgawes sonder wetlik voorgeskrewe verkrygingsprosesse word as onreëlmatig beskou.
Volgens voorskrif verg kleiner transaksies drie kwotasies en groter transaksies vereis dat tenders aangevra word.
Die voorgeskrewe proses poog om onbehoorlike bevoordeling en bedrog te voorkom.
Die proses laat wel afwykings in enkele gevalle, byvoorbeeld noodgevalle, toe.
“Maar amptenare misbruik gedurig die toelaatbare afwykings. By vyf geleenthede is elektrisiteitsmeters aangekoop en geïnstalleer teen ‘n bedrag van R2.56m, kamma in ‘noodgevalle’,” sê Van der Merwe.
“My vraag hoe aankoop van elektrisiteitsmeters ooit ‘n noodgeval kan wees, is ontwyk en bly onbeantwoord.”
Hy sê dat ANC-raadslede ten spyte daarvan die verskoning aanvaar het.  Rdl. Van der Merwe sê dat hy ook gekla het oor ‘n ander wanpraktyk – die deel van ‘n groter kontrak in twee of meer kleiner kontrakte waarop minder streng verkrygingsreëls dan van toepassing is.
Ngwathe se voorlopige finansiële jaarstate vir die pas afgelope boekjaar moes teen 31 Augustus ingedien word, onder  meer by die ouditeur-generaal.
“Dit is egter nie gereed nie en die ouditeur-generaal moes om uitstel gevra word.”
Rdl. Van der Merwe vermoed dat onreëlmatige uitgawes in die afgelope jaar skerp toegeneem het en hy verwag tot soveel as R120 miljoen.
“Hierdie uitgawes neem toe omdat dit nie behoorlik ondersoek word met die oog op stappe teen amptenare wat nie die prosesse nakom nie, en dan, soos verlede week,  goedgekeur word.”
Rdl. Van der Merwe sê dat hy die hele kwessie vir ondersoek na die Openbare Beskermer mag verwys.

Related Articles

Back to top button