NewsNews

Motordiefstal: Loop lig vir hierdie baie slim swendelaars

“Indien enige iemand so ’n oproep ontvang, moet hulle die besonderhede kry en dit aan die polisie oorhandig, sodat dit ondersoek kan word,” het sy gesê. Illustration photo Potchefstromer Gerrard Pieters is byna met ’n slap riem gevang toe hy die nuus ontvang het dat sy gesteelde motor opgespoor is. Dié nuus het gelei na …

police,saps

Illustration photo

Potchefstromer Gerrard Pieters is byna met ’n slap riem gevang toe hy die nuus ontvang het dat sy gesteelde motor opgespoor is.

Dié nuus het gelei na drie weke se beplanning en ’n onnodige rit na Polokwane, waar sy motor toe nooit was nie.
Pieters se motor is drie weke gelede uit sy erf gesteel.
“Ek het die aand my motor parkeer en toe ek die Sondagoggend wou ry, was my hek gebreek en my motor weg,” sê hy.

Hy het ’n saak van motordiefstal by die Potchefstroom polisiestasie aangemeld. “Dit is nou net my geluk. Ek het dit drie weke voor dit gesteel is laat regmaak en nuwe bande laat opsit.”

Hy het ook in Januarie sy motorversekering gekanselleer omdat hy dit nie meer kon bekostig nie.
’n Dag nadat hy die saak aangemeld het, het hy ‘n oproep van ‘n man gekry wat gesê het dat hy van die polisie is.
“Hy sê toe vir my hulle het my motor op pad na Polokwane opgespoor en dat twee verdagtes gearresteer is. Die motor was glo vol vuurwapens en baie beskadig,” sê hy.

Pieters het toe probeer uitvind of hy die motor in Potchefstroom kon kry, maar ’n week later het hy ’n oproep van iemand ontvang wat gesê het dat hulle die motor vir hom kan bring, mits hy R7 000 betaal.
“Ek sê toe vir hulle dat ek nie soveel geld het nie, en dat ek eerder sal probeer om die motor self in Polokwane te gaan haal,” sê hy.

’n Uur en ’n half later het hy weer ’n oproep van dieselfde man ontvang wat gesê het dat hulle nou vir hom die motor kan bring en dat hy net R800 vooruit moet betaal.

“Ek het toe met my vriend gesels oor die storie, en hy vertel my toe van die “scam” waaroor hy gelees het, en dat dit vir hom baie verdag klink. Toe die man my die volgende oggend bel om te hoor of ek die geld het, het ek vir hom gesê ek sal eerder self die motor gaan haal, aangesien dit vir my verdag klink.”

Die man sê toe vir Pieters dat dit nie is hoe hy besigheid doen nie, en het die foon in sy oor doodgedruk.
“Ek kon toe reël dat iemand my Vrydag (8 September) na Polokwane neem om my motor self te gaan haal. Ek het voor die tyd die nommer weer gebel om seker te maak my motor is daar en die man het vir my gesê dit is daar. Hy het ook my motor beskryf en kon my motor se registrasienommer vir my lees,” sê hy.
Toe hy daar kom, was daar geen teken dat sy motor ooit daar was nie.

“Ek moes terugkom Potchefstroom toe sonder my motor. Na al die tyd en moeite om in Polokwane te kom, is my motor steeds weg.”

* Die Herald dra kennis van ’n soortgelyke geval van ’n man wie se BMW op 11 Augustus in Ikageng gesteel is, en kort daarna is hy geskakel deur iemand wat hom as ‘n polisiebeampte voorgedoen het.
Hy het dieselfde nuus ontvang dat sy motor gevind is, en dat hy ’n bedrag moet betaal vir aflewering van die motor. Die Herald wag vir meer inligting oor die saak.

Volgens ‘n polisiewoordvoerder, ao. Mpho Manyoba, is dit ’n nuwe tendens onder swendelaars.
Mense wie se voertuie gesteel is, word gekontak deur mense wat hulself as lede van die polisie voordoen.
“Hulle vertel dan dat die voertuig gevind is, maar dat ’n bedrag geld saamgebring moet word om die voertuig te eis,” het Manyoba aan die Herald gesê.

Sy sê dat die polisie nooit geld sal vra om ’n gesteelde voertuig terug te eis nie, en dat die gemeenskap nie vir die knoeiery moet val nie.

“Indien enige iemand so ’n oproep ontvang, moet hulle die besonderhede kry en dit aan die polisie oorhandig, sodat dit ondersoek kan word,” het sy gesê.

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button