NewsNews

Opposisiepartye stap uit raadsvergadering

‘n Raadsvergadering is verlede maand onverrigter sake uiteen na skerp opposisieprotes dat die orde-reëlings daarvoor vir die soveelste keer nie nagekom is nie.  Al drie opposisiepartye het, sover bekend, die eerste keer ooit gesamentlik in protes uit die Raadsaal gestap. Raadslede kla lank reeds oor die swak reëling van vergaderings. “Kennisgewings is gereeld laat, agendas …

‘n Raadsvergadering is verlede maand onverrigter sake uiteen na skerp opposisieprotes dat die orde-reëlings daarvoor vir die soveelste keer nie nagekom is nie.  Al drie opposisiepartye het, sover bekend, die eerste keer ooit gesamentlik in protes uit die Raadsaal gestap.
Raadslede kla lank reeds oor die swak reëling van vergaderings. “Kennisgewings is gereeld laat, agendas is onvolledig, verslae ontbreek, en feitestukke foutief,” sê DA-raadslid Arnold Schoonwinkel. “Ook ANC-raadslede kla daaroor, maar tot dusver sonder gevolg.” Op ‘n raadsvergadering op 31 Julie het raadslede reeds gewaarsku daar moét gevolge kom. “Ons het geëis dat alle vergaderings voortaan aan wetsvoorskrifte moet voldoen, anders sou ons uitstap, en ons reg voorbehou om die vergadering as onwettig te laat verklaar,” sê rdl. Phillip van der Merwe (Vryheidsfont Plus), ‘n prokureur van Heilbron. Hy sê die Raad se Reglemente stel duidelike vereistes. “Raadslede moet byvoorbeeld vyf dae vooraf kennis ontvang, behalwe oor dringende sake (wanneer 48 uur kennis voldoende is).” Hy sê amptenare misbruik egter gereeld hierdie vergunning.
“Dit belemmer ons oorsigrol. Raadslede kan bitter moeilik deeglik voorberei op kort kennisgewing.” Toe ‘n vergadering einde Augustus opnuut op baie kort kennisgewing belê is, was die gort gaar. Rdl. Van der Merwe het met die aanvang die Speaker versoek om die “vergadering” te laat herskeduleer, na behoorlike kennisgewing. Hy is gesteun deur die DA, die EFF en selfs burgemeester Mochela. Toe Speaker Mopedi huiwer, het alle opposisieraadslede uit protes begin uitstap. Die ANC het daarna bes gegee en die vergadering is uiteen. Dit is herbelê, en vind nou vandag plaas.

Related Articles

Back to top button