NewsNews

Aanpasbaarheid en veiligheid die kern van dié projek

Daar spruit dikwels negatiewe gevoelens uit die woord “kernkrag”. Tog is kernkrag, volgens dr. Anthonie Cilliers, programbestuurder van Kerningenieurswese by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, die veiligste aanlegte waarmee elektrisiteit opgewek kan word. Dr. Anthonie Cilliers Daar spruit dikwels negatiewe gevoelens uit die woord “kernkrag”. Tog is kernkrag, volgens dr. Anthonie Cilliers, programbestuurder van Kerningenieurswese by …

Dr. Anthonie Cilliers

Dr. Anthonie Cilliers

Daar spruit dikwels negatiewe gevoelens uit die woord “kernkrag”. Tog is kernkrag, volgens dr. Anthonie Cilliers, programbestuurder van Kerningenieurswese by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, die veiligste aanlegte waarmee elektrisiteit opgewek kan word.

“Meer mense sterf deur van dakke af te val waar hulle besig is om sonpanele te installeer as in die kernkragbedryf, en ons weet dit is nie baie nie”, sê hy.

Dr. Cilliers is deel van ’n span wat tans besig is met navorsing vir die ontwerp van ’n nuwe kernkragaanleg.
Verskeie universiteite in Suid-Afrika het ’n groep gestig met die naam The South African Network for Nuclear Education, Science and Technology (SAN-NEST) wat ondersteun word deur die departement van energie, asook die International Atomic Energy Agency (IAEA) wat ’n Verenigde Nasies organisasie is.

In Afrika is daar ’n soortgelyke groep met die naam AFRA-NEST waarvan dr. Cilliers die verteenwoordiger is. Die doel van hierdie stigting is sodat navorsers by verskillende universiteite kan saamwerk en idees uitruil om die kernindustrie vorentoe te neem in terme van navorsing.

“Ons beywer onsself tot die probleme op die oomblik en om navorsing te doen en verbeteringe voor te stel vir die huidige kernkragstasie in Suid-Afrika. Ons kyk ook na die toekoms en na beter tegnologieë, materiale en metodes om die kernkragstasies van die toekoms te ontwikkel,” sê hy.

Dit is na aanleiding van bogenoemde waarop die Advanced High Tempera- ture Reactor (AHTR) ontwerp word. Hoewel die ontwerp steeds in die navorsingstadium is, poog SAN-NEST om binne die volgende 10 jaar, in samewerking met Eskom, hierdie aanleg te voltooi.

Die meerderheid van die werk wat gedoen word vind binne die universiteite plaas met verdere hulp van vriende van die universiteit. Die NWU is die kern van die navorsingsmodel. Ander universiteite wat ook betrokke is is die Nelson Mandela universiteit, die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Pretoria.

Volgens dr. Cilliers is die projek anders benader as enige ander soortgelyke projek ter wêreld. “Ons het nie begin deur te sê ons het ’n tegnologie wat ons wil verpak om te bemark nie. Ons het gegaan en gesê hoe sien ons die toekoms van energieverskaffing in die wêreld met die veranderinge wat plaasvind in hoofsaaklik elektrisiteitsverskaffing en het die projek rondom dit gebou.”

Nie net gaan hierdie aanleg verbeteringe in die industrie bring nie, maar dit is ook omgewingsvriendelik en kan dien as ’n vennoot van hernubare energiebronne.

“Hoewel wind- en sonkrag elektrisiteit gratis opwek, is dit onvoorspelbaar. As die wind nie waai nie en die son nie skyn nie dan is daar nie krag nie,” sê dr. Cilliers. Hy sê die AHTR aanleg sal ’n bydrae lewer tot wind- en sonkrag opwekking deur as energiestoringseenheid op te tree. Verder is die aanleg omgewingsvriendelik aangesien geen steenkool, olie of gas tydens die opwekkingsproses verbrand word nie. Daar word dus geen CO2 in die lug vrygestel nie.

Kernkragaanleg is volgens dr. Cilliers ook die enigste kragopwekkingsaanleg wat hul afval in geheel beheer. Geen afval word in die omgewing vrygestel nie.

Hy sê een van die belangrikste aspekte is hoe ’n kernkragstasie gebou kan word wat daaraan voldoen om besoedeling te verminder. “Ek is baie opgewonde om te sê ek dink ons kan ’n natuurlike vennoot van die hernubare energie-industrie wees. Die tegnologie is beslis in die gebied van CO2 vermindering. Dit is absolute groen-tegnologie,” sê hy.

Benewens die feit dat die aanleg geen skade aan die omgewing gaan veroorsaak nie, gaan dit ook besonder veilig wees. “Ons stel die veiligheid van die aanleg self bo alles.

“Dis nie net die veiligste energiebron nie, dis die veiligste industrie in die wêreld. Die risiko vir ’n kernongeluk is ongelooflik laag. Daar het nog net drie groot ongelukke gebeur waarvan Chernobyl ’n menslike en politieke fout was. By Fukushima is niemand dood weens die kernongeluk nie, almal wat dood is, is weens die tsunami en aardbewing.”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button