NewsNews

Hoe vergeet jy die onthou

Hoe kyk jy verby fisiese letsels, waarvan sommige nooit weggaan nie? Hoe vergeet jy doodse angs, vernedering en pynlike onthou? Jy vergeet nie. Jy’s dankbaar jy leef. Sommige praat daaroor. Ander se emosies is  té rou vir praat. Maar jy’s nooit ooit weer dieselfde. En hierdie onthou van slagoffers van plaasaanvalle het mense regoor die …

Hoe kyk jy verby fisiese letsels, waarvan sommige nooit weggaan nie? Hoe vergeet jy doodse angs, vernedering en pynlike onthou? Jy vergeet nie. Jy’s dankbaar jy leef. Sommige praat daaroor. Ander se emosies is  té rou vir praat. Maar jy’s nooit ooit weer dieselfde.
En hierdie onthou van slagoffers van plaasaanvalle het mense regoor die Vrystaat gedeel met die 911 Bikers Ride Against Farm Murders (911 BRAFM) tydens hul protesrit deur die land wat op 1 September in Sasolburg begin het,  en gister ten einde geloop het. ’n  Soortgelyke rit is al in Mpumalanga gedoen, en ’n  nasionale rit word vir 2018 beplan.
Die gedagte van die ritte is om by elke polisiekantoor in die dorpe wat hulle besoek, ’n  memorandum te oorhandig. Oor die 6 dae sou daar 2 521km gery word en 31 dorpe besoek word. Die rolprent, “Treurgrond” sou ook in Bothaville, Clarens en Heilbron vertoon word.
Past. TJ Maré van Nelspruit het die ritte begin reël om die gruwel van plaasaanvalle onder die aandag van mense tot op die hoogste vlak te bring.
Verlede Vrydag het die groep by die Parys-polisiestasie gestop waar die memorandum aan kol. Malefetsane Kotsoane oorhandig is.
Die boodskap was baie duidelik – sonder  boere kan ons nie. Sonder boere verloor ons kos, verloor ons werksgeleenthede, verloor ons kennis en vaardighede – verloor ons ons land se boere.
Saam kan daar egter ’n  verskil gemaak word, en is die memorandum juis bedoel om  nie net aan die polisie erkenning te gee vir die rol wat hulle in die land se veiligheid speel nie, maar ook om die groep se dienste aan te bied om te help om landelike veiligheid te verseker.
Kol. Kotsoane, stasiebevelvoerder van die Parys-polisiestasie, het by ontvangs van die memorandum weer opnuut sy verbintenis gegee om saam met die landelike gemeenskappe te werk om seker te maak lewens word nie verloor nie. Hy het ook die wens uitgespreek dat hierdie inisiatief uitgebrei sal word en dat dit juis op die regte tyd kom vir die Parys, Sasolburg en Barrage gemeenskappe waar die polisie alreeds hulself verbind het tot landelike veiligheid as prioriteit.
Ná die oorhandiging van die memorandum het polisielede, die motorfietsryers en lede van die publiek saam die hoofde gebuig en die Onse Vader gebid.
Die groep is van Parys na Vredefort waar hulle ook slagoffers van plaasaanvalle ontmoet het, en aan elkeen van hierdie slagoffers ’n palm met ’n  bruin strik oorhandig is as teken van hoop en groei.

Rou emosie is Vrydag in Vredefort beleef waar die groep motorfietsryers, lede van die polisie, Vredefort/Koepel Gemeenskap Polisiëring Forum en die publiek, slagoffers van plaasaanvalle ontmoet het. Meer as 17 van hulle wat aangeval is op hul plase binne ’n  radius van 50km vanaf Vredefort.

Kol. Kotsoane, stasiebevelvoerder van die Parys polisiestasie, neem die memorandum in ontvang van die 911 Bikers Ride Against Farm Murders. Hy het opnuut sy verbintenis gegee om landelike veiligheid te verseker.

Related Articles

Back to top button