NewsNews

Student breek by “eie” voertuig in

’n Student is in die pekel en moes in die vroeë oggendure mooi verduidelik toe hy by ’n ander student se kar ingebreek en in dié kar aan die slaap geraak het. ’n Student is in die pekel en moes in die vroeë oggendure mooi verduidelik toe hy by ’n ander student se kar ingebreek …

’n Student is in die pekel en moes in die vroeë oggendure mooi verduidelik toe hy by ’n ander student se kar ingebreek en in dié kar aan die slaap geraak het.
Die kinkel is dat hy die ander student se kar vir sy eie aangesien het toe hy uit ’n kuierplek gekom het.
Vir sy “foutjie” is hy toe in hegtenis geneem op aanklag van kwaadwillige beskadiging van eiendom.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, het ’n student Saterdagaand omstreeks 21:00 sy voertuig in Steve Bikolaan parkeer.
“Teen 03:00 Sondagoggend, terwyl hy op pad na sy voertuig is, het ’n karwag hom ingelig dat iemand by sy voertuig ingebreek het en dat die “inbreker” nog in die voertuig is.”
Toe die student by sy kar kom het hy gesien iemand lê in sy kar en slaap.
“Hy het hom gevra wat hy in die voertuig maak waarna die ander student met hom gestry het dat dié kar in werklikheid syne is,” vertel Chaka.
Die agterruit van die kar was gebreek en daar was twee duike in die voertuig.
Dit blyk toe later dat die “karslaper” dieselfde model en kleur voertuig besit.
Hy het glo gedink dat die voertuig aan hom behoort, maar nadat sy sleutel nie die deur wou oopsluit nie het hy die ruit gebreek om in te kom.
Toe die sleutel boonop nie die voertuig wou aansluit nie het hy glo besluit om maar ’n bietjie te rus.

  AUTHOR

Dustin Wetdewich
Journalist

Related Articles

Back to top button