NewsNews

Alzheimer se Siekte: Wat jy moet weet

September is Wêreld Alzheimer-maand wanneer bewusmaking, veral met die fokus op kennis van die kermerke van die siekte, geplaas word met die oog op vroegtydige diagnose. Alzheimer se Siekte – die aftakeling en vernietiging van breinselle – maak nagenoeg 70% uit van alle demensie gevalle. Diagnose van die siekte vereis die dienste van ’n  medikus, …

September is Wêreld Alzheimer-maand wanneer bewusmaking, veral met die fokus op kennis van die kermerke van die siekte, geplaas word met die oog op vroegtydige diagnose.
Alzheimer se Siekte – die aftakeling en vernietiging van breinselle – maak nagenoeg 70% uit van alle demensie gevalle.
Diagnose van die siekte vereis die dienste van ’n  medikus, verkieslik ’n  neuroloog, wat dan ’n  mediese of ander behandeling voorskryf.
Dit word bereken dat 25 miljoen mense in die wêreld slagoffers van hierdie ongeneeslike siekte is. In die lig daarvan dat die siekte ongeneeslik is, en dat daar geen doeltreffende medikasie is nie, word sekere simptome aangespreek om die pasiënt te stabiliseer en rustiger te maak. Daar is ook sekere middels wat verligting kan bring en die verstandelike agteruitgang kan vertraag.
Een van die vroegste tekens van Alzheimer se Siekte is die onvermoë om korttermyn gebeure te onthou. (alkoholmisbruik en breinbesering kan ook soortgelyke simptome toon). Breinselle word beskadig en gaan dood wat lei tot die stelselmatige vernietiging van ’n  selfstandige leefwyse.
Namate die brein degenereer neem die funksie van kommunikasie en redevoering af. Spraakprobleme ontstaan en die onvermoë om taal na wense te gebruik, veroorsaak dat gedagtes nie sinvol uitgespreek kan word nie. Woorde ontbreek en ’n  verkeerde woord word in ’n  sin gebruik. Dit veroorsaak dat die begrip verlore gaan. Die pasiënt is later so verward dat die gesprek onsamehangend en fragmentaries is.
Omdat die persoon se denke ook die bron van sy gedrag is, sal die wanfunksionering van die denkprosesse nou ook vaardigheidsprobleme veroorsaak. Wat voorheen so maklik was, word nou ’n  nagmerrie soos om klere aan te trek en knope vas en los te maak. Selfs die gebruik van ritssluiters word ’n  onbegonne taak. Huishoudelike dinge kan nie meer gedoen word nie en berekeninge en vooruitbeplanning is onmoontlik.
Progressiewe agteruitgang van breinfunksies bring ook mee dat persoonlikheidsveranderinge plaasvind. Die eens onafhanklike persoon word toenemend afhanklik van ’n  versorger en andere.
Die pasiënt verdwaal in selfs bekende plekke, en is ook geneig om doelloos weg te stap sonder waarskuwing.
Dit is belangrik om te weet dat die pasiënt nie vir sy gedrag verantwoordelik is nie maar die siekte wel.
Sodra ’n  persoon al meer van sogenaamde simptome toon, is dit noodsaaklik dat ’n  professionele medikus se mening ingewin word.
Alzheimers beïnvloed nooit net die pa-  siënt nie, maar ook sy onmiddellike familiekring wat dikwels baie aanpassings moet maak om hom/haar by te staan. Dit is nie ’n  maklike taak nie, en ekstra kennis en ondersteuning is noodsaaklik.
’n  Eenvoudige handleiding met die naam, “Hoop in hopelose situasies” (in beide Afrikaans en Engels) is spesiaal voorberei vir familieversorgers, en is beskikbaar by Izak Kriel by 082 898 3723.
Vir enige ander ondersteuning ten opsigte van Alzheimer se Siekte, skakel Marietjie Oehley by die Alzheimer Ondersteuningsgroep in Parys by (056) 811 2460

Related Articles

Back to top button