NewsNews

Afleggings by Amsa kan ‘grootskaals’ wees

Vaalweekblad van 23 Augustus berig dat die verwagte afleggings by ArcelorMittal redelik wydverspreid kan wees. Willem de Klerk, uitvoerende bestuurshoof van ArcelorMittal Suid-Afrika Retha Fitchat VANDERBIJLPARK. – ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) het verlede week aangekondig dat daar binnekort begin sal word met die volgende rondte herstrukturering, wat in gewone taal beteken dat poste verder besnoei gaan …

Willem de Klerk, uitvoerende bestuurshoof van ArcelorMittal Suid-Afrika
Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) het verlede week aangekondig dat daar binnekort begin sal word met die volgende rondte herstrukturering, wat in gewone taal beteken dat poste verder besnoei gaan word.

Amsa trek swaar, hoofsaaklik weens die land se sukkelende ekonomie en ‘n lae aanvraag na staal. Dit het reeds geblyk uit sy tussentydse resultate vir die eerste ses maande van die jaar. Vooruitsigte vir die res van die jaar lyk ook nie rooskleurig nie.

“Ons glo nie dat die vooruitsigte in die nabye toekoms gaan verbeter nie, veral weens die gebrek aan beleggings in infrastruktuurontwikkeling. Amsa moet dus verskeie sinergieë oorweeg om sy bedrywighede te optimaliseer. Om dié rede het ons die moeilike besluit geneem om ‘n konsultasieproses met werknemers te begin oor ‘n voorgestelde herstrukturering van Amsa,” sê Wim de Klerk, uitvoerende bestuurshoof van die onderneming.

Hy sê dit is in hierdie stadium moeilik om te skat hoeveel werknemers as gevolg van so ‘n herstrukturering afgelê sal moet word omdat dit gaan afhang van hoe die konsultasieproses en ander maatreëls om afleggings te probeer voorkom, verloop.

In hierdie stadium word geraam dat meer as 50 werknemers afgelê gaan word, wat dit in die bestek van ‘n grootskaalse afdanking sal plaas.

De Klerk sê Amsa gaan voort met konstruktiewe betrokkenheid by arbeid (vakbonde) en die regering in ‘n poging om die impak van verwagte veranderinge, in besonder van potensiële posverliese, te beperk.

“Alle moontlike maatreëls om posverliese te voorkom, sal oorweeg word voordat gedwonge aflegging as ‘n laaste uitweg geïmplementeer sal word,” sê De Klerk. Hy het bygevoeg dat Amsa eerder van sy kontrakteurs sal laat gaan voordat sy eie werkerskorps afgeskaal word.

Die vakbond Solidariteit meen egter Amsa se herstruktureringsplan is net ’n rookskerm om nog werkers af te lê.

Solidariteit het verlede week bevestig dat hy ‘n artikel 189A-afleggingskennisgewing van Amsa ontvang het.

Mnr. Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, sê dié vakbond verwag dat Amsa se besluit om met ‘n nuwe rondte afleggings te begin, ’n groot impak op gemeenskappe sal hê waarbinne die onderneming bedryf.

Volgens Croucamp is Amsa die rugsteun van alle indiensneming in die Vaaldriehoek (66%), Newcastle (66%) en Saldanha (25%).

Croucamp sê Solidariteit onderneem om alles in sy vermoë te doen om verdere afleggings by Amsa te voorkom. Hy sê Solidariteit beplan om in ernstige gesprekke met Amsa te tree om alternatiewe moontlikhede te bespreek sodat afleggings as die laaste uitweg oorweeg sal word.

Amsa het die afgelope jaar reeds verskeie stappe gedoen om sy finansiële oorlewing te probeer verseker. Die Vereenigingse smelteraanleg, waar sowat 288 mense gewerk het, sowel as sy ysterertsmyn in Thabazimbi is reeds gesluit as deel van sy herstrukturering.

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button