NewsNews

Kunsmeester se werke my museum te sien

Hennie Kruger, wat deur talle beskou word as een van Suid-Afrika se beste kontemporêre kunstenaars, stal vanaf Woensdag, 30 Augustus tot 27 September 2017 by die Potchefstroomse Museum in Sol Plaatjie straat uit. Vir elke kunsliefhebber is dié retrospektiewe kuns ten toonstelling ’n moet. ’n Keur van nagenoeg 80 werke sal ’n  blik bied op …

Hennie Kruger, wat deur talle beskou word as een van Suid-Afrika se beste kontemporêre kunstenaars, stal vanaf Woensdag, 30 Augustus tot 27 September 2017 by die Potchefstroomse Museum in Sol Plaatjie straat uit. Vir elke kunsliefhebber is dié retrospektiewe kuns ten toonstelling ’n moet.
’n Keur van nagenoeg 80 werke sal ’n  blik bied op die kunsmeester se kunsloopbaan. Die uitstalling is saamgestel uit werke in privaatbesit, dit wat in museums en kunsgallerye gehuisves word, en werke uit Hennie se studio. Talle werke sal ook te koop aangebied word.
Hennie het reeds as 4-jarige gedroom om ’n  kunstenaar te word. Die pad van sy kuns en sy persoonlike lewe het egter lang en ingewikkelde draaie geloop. Sy pa was daarteen gekant dat hy na ’n  kunsskool gaan en het hom ingeskryf by ’n  landbouskool. Daar is hy gestraf as hy geteken het.
Ná skool het hy nog steeds die hartsbegeerte gehad om sy kunstalent uit te leef en het hy aan die destydse Potchefstroomse Universitiet vir CHO Beeldendende Kunste gaan studeer. Sy dosente het toe alreeds voorspel dat hy die potensiaal het om diep spore in die Suid-Afrikaanse kunswêreld te trap.
Na hy ’n draai as kunsonderwyser by Hoër Volkskool in Potchefstroom gemaak het, het hy op 1 April 1993 besluit om hom voltyds aan sy kuns toe te wy.
Sedertdien het hy nagenoeg 18 solo-tentoonstellings landwyd gehou en aan talle groep ten toonstellings deelgeneem.
Sy werke maak deel uit van die versamelings van talle museums, privaat individue en korporatiewe instellings.
Hennie werk hoofsaaklik in olie en houtskool op linne, asook ander gemengde media. Hy is veral bekend vir sy diversiteit in style, temas en tegnieke. Hy ontvang gereeld opdragte vir kunswerke en portretstudies vanuit Suid-Afrika, asook die buiteland waaronder Duitsland, Amerika, Engeland, Australië , Suid-Korea ensovoorts.
Een só ’n parlementêre opdrag was van wyle president Nelson Mandela.
In sy besige program maak Hennie ook tyd vir kunsklasse.
Hennie voel sterk daaroor dat geen persoon homself as’n  kunstenaar kan kwalifiseer alvorens hy of sy nie die kuns om te kan teken bemeester het nie. Slegs dan kan ’n persoon sy hand aan ander kunsvorme soos skilderkuns waag, meen hy.
Die kunswerke van Hennie getuig daarvan dat hy oor ongelooflike tekentalent beskik. Hy glo ook nie aan herhalings nie. Vir hom is elke werk enig en uniek.
Volgens Hennie is sy kunstentoonstelling by die Potchefstroomse Museum sy laaste. Nieteenstaande die opmerking is bewonderaars van die talentvolle kunsmeester dit eens dat kuns ’n onlosmaaklike deel is van hom  en dat dat die verf op sy kwas nog lank nie droog is nie.
Almal is  welkom om die openingsaand op Woensdag, 30 Augustus om 19:00 by te woon. Kom klink n glasie op Hennie se lewenswerk, asook sy 63ste verjaarsdag. Vir navrae skakel gerus vir Elmarie Weyers by 018 2995021 of 018 2995042
Besoek ook Hennie se webblad: henniekrugerartmaster.co.za vir meer inligting.

Related Articles

Back to top button