NewsNews

NWU stel nuwe sonkragmotor bekend

Die Fakulteit Ingenieurswese van die Noordwes-Universiteit sal op Dinsdag 22 Augustus om 13:00 vir Naledi, die 2017-weergawe van die sonkragmotor, by The Roots in Potchefstroom bekendstel. Die sonkar wat in 2015 bekendgestel is. FOTO: Verskaf Die Fakulteit Ingenieurswese van die Noordwes-Universiteit sal op Dinsdag 22 Augustus om 13:00 vir Naledi, die 2017-weergawe van die sonkragmotor, …

Die sonkar wat in 2015 bekendgestel is. FOTO: Verskaf

Die Fakulteit Ingenieurswese van die Noordwes-Universiteit sal op Dinsdag 22 Augustus om 13:00 vir Naledi, die 2017-weergawe van die sonkragmotor, by The Roots in Potchefstroom bekendstel.

Met ’n splinternuwe ontwerp wat deur retro-invloede geïnspireer is, is Naledi beslis iets om na te kyk, en nogal modern ook. Naledi gaan meeding in die Bridgestone World Solar-uitdaging, wat vroeg in Oktober in Australië begin. Die uitmergelende reis begin in Darwin en volg die Stuart Highway na Port Augusta, en dan Highway 1 na Adelaide, ongeveer 3 000 km verder.

Die span van die NWU het in 2016 die langste afstand behaal wat deur ’n Suid-Afrikaanse span bereik is – dit is die langste dagafstand deur ’n Suid-Afrikaanse span – en ook die Team Professionalism and Safety-toekenning sowel as die Spirit of Africa-toekenning gewen. Dit is baie om te probeer ewenaar, maar ’n uitdaging is vir die NWU ’n wortel voor die neus.

Die bekendstelling vind plaas tydens die SETHI Explosions-week, wat ook by The Roots gehou word. Dit is maar net een hoogtepunt van ’n week wat altyd baie opwindend en vol gebeurlikhede is.

“Ons is baie opgewonde om weer eens deel van die SETHI Explosions-week te wees. Dit is waar die Noordwes-Universiteit sy jongste ontwikkelings en navorsing en kommersialisering kan vertoon. Die doelwitte van die gebeurtenis is om ons jongste ontwikkelings te bevorder, personeel bekend te stel wat ’n verskil maak, ons bedryfsvennote bekend te stel, en ’n omgewing te skep waar ons nuwe verhoudings kan smee,” sê prof LJ Grobler, waarnemende dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese.

SETHI Explosions stal navorsing, ontwikkeling en handelsgeleenthede by die Noordwes-Universiteit (NWU) aan die bedryf en aan belanghebbers ten toon. Dit het nog altyd daarin geslaag om ’n netwerkplatform tussen akademici, navorsers en die bedryf te skep deur die kombinasie van uitstallings en hoë-impakproduksies wat in ’n aand vol pret en vermaak geïntegreer word.

Dit het in 2013 begin met Engineering Explosions, waar die Fakulteit Ingenieurswese sy projekte en navorsing uitgestal het. Die Wetenskap-fakulteit het in 2014 en 2015 by Explosions aangesluit. Sedert 2016 is die gebeurtenis uitgebrei om Wetenskap, Ingenieurswese, Tegnologie, Gesondheid sowel as Innovering in te sluit, vandaar SETHI Explosions.

 

Related Articles

Back to top button