NewsNews

Boomplantdag is die volgende teken van hoop vir historiese Eikelaan

Daar is nuwe hoop dat Potchefstroom se historiese Eikelaning gered kan word, danksy verskeie mense en instansies se belangstelling daarin. Die Eikelaning bestaan sedert 1910 toe die eerste bome op versoek van ’n ene Reuben Gericke, wat daagliks met sy fiets van die Potchefstroom dam tot by die Landboukollege moes ry, geplant is. Eikebome is… …

Die historiese Eikelaan in Potchefstroom.

Die historiese Eikelaan in Potchefstroom.

Daar is nuwe hoop dat Potchefstroom se historiese Eikelaning gered kan word, danksy verskeie mense en instansies se belangstelling daarin.

Die Eikelaning bestaan sedert 1910 toe die eerste bome op versoek van ’n ene Reuben Gericke, wat daagliks met sy fiets van die Potchefstroom dam tot by die Landboukollege moes ry, geplant is.

Eikebome is al langs die roete geplant en in 1977 is die Eikelaning tot ‘n nasionale monument verklaar.

Die bome het veral begin agteruitgaan weens ‘n tekort aan water sedert die sluiting van leiwatervore en verdigting van grond soos plaveisel wat met ontwikkeling op die Bult gepaard gegaan het.

Dit het veroorsaak dat reënwater vinnig deur stormwaterstelsels weggevoer is. Talle bome in die laning is reeds dood.

Met die samewerking van die munisipaliteit, die Potch-Tlokwe Sakekamer en Heritage Potchefstroom Erfenis, staan die Eikelaning weer ’n kans om te oorleef.

Die munisipaliteit is reeds besig om dooie bome te verwyder en daar gaan eersdaags begin word met die aanplant van jong bome in die plek van dié wat dood is. Met hul beperkte begroting kan slegs 20 bome aangekoop word, hoewel die verskaffer 40 bome beskikbaar het.

Potchefstromers word genooi om van die oorblywende 20 bome te borg. Koste van die borgskap beloop R3 000 per boom. Dit sluit die koopprys van die boom, die plant daarvan, herstel van bestaande besproeiing en ’n beskermende omheining in.

Etlike van die Potch-Tlokwe Sakekamer se lede stel hul dienste teen ’n afslagprys en selfs gratis beskikbaar om dié projek moontlik te maak. Persone wat belangstel om ’n boom – of bome – te borg, kan André de Villiers by 082 824 2617 of Lennie Gouws by 083 423 0394 skakel.

Skenkings kan gemaak word in die vorm van inbetalings in die bankrekening van Heritage Potchefstroom Erfenis, ABSA, tjekrekening, 680 790 582, banktakkode 632 005, verwysing “EIKE” en die skenker se van of besigheid se naam.

Die eerste boom word op 1 September om 10:00 voor die Akker Koffiehuis op Nasionale Boomplantdag vervang.  Die publiek word genooi om dit by te woon.

Related Articles

Back to top button