NewsNews

Die beste kritiek kom soms van jou grootste ”vyand”

Ds. Johan Raubenheimer, NG Potchefstroom-Noord Ek het die afgelope vakansie die voorreg en groot genade beleef om saam met my gesin drie groot stede, naamlik Londen, Parys en Dubai, te besoek. Elkeen was ‘n grootse ervaring, veral vir my kinders vir wie ons hierdie reis in die besonder onderneem het. Dit was onder meer met… …

Ds. Johan Raubenheimer, NG Potchefstroom-Noord

Ds Johan Raubenheimer saam met sy vrou Pauline.

Ek het die afgelope vakansie die voorreg en groot genade beleef om saam met my gesin drie groot stede, naamlik Londen, Parys en Dubai, te besoek.
Elkeen was ‘n grootse ervaring, veral vir my kinders vir wie ons hierdie reis in die besonder onderneem het.
Dit was onder meer met ‘n besoek aan die National Gallery in London dat ek in verwondering gaan staan het voor skilderye van meesters soos Paul Cezanné, Domenichino, Rubens en Rembrandt, Pieter Saerendam en Giovanni Bellini, geraam in houtrame so groot as 12×8 meter.
Mens het diep ontroerd teruggestaan en besef hoe klein, en tog hoe skeppend en kreatief, God die mens gemaak het. Geen wonder dat die Bybel die mens beskryf as Sy verteenwoordiger, as mede-skepper van God nie.
Dit was veral die twee werke van Vincent van Gogh (1853-1890) wat beslis die meeste aandag getrek het. Ouer, maar veral jonger besoekers aan die gallery het voor Van Gogh se Stoel en sy bekende Sonneblomme saamgedrom en gewedywer vir spasie en tyd om foto’s en “selfies” te neem, so asof daardie twee werke vir iets groters staan as die res van die byna 5 000 wat te siene was.
Nog ‘n kontras was die twee selfportrette van Rembrandt wat ongeveer 30 jaar uitmekaar geskilder is (een op 30 en die ander op 63-jarige leeftyd) wat veral duidelike tekens getoon het van harde werk, toewyding en meer nog – die ouderdom wat sy letsels laat op die wese van elke mens.
Vir skilders soveel te meer die oë wat verswak en die liggaam wat weens die skilder-liggaamshouding inmekaar getrek raak. Beslis die tyd wat sy tol geëis het weens die inspanning wat gepaard gaan met die skeppende kunste. Hetsy jy ‘n woord-kunstenaar, palet-kunstenaar of bloot filosoof, teoloog en fyn waarnemer is – dit vra iets van jou.
Dit vra onderskeiding, toewyding, gee van jouself, lang ure van beplanning en oorweging waarvan min mense werklik weet, ‘n “boldness” om die kritiek wat jou kuns mag ontlok te moet trotseer.
Dan praat ons nie eens van professionele jaloesie wat menige kunstenaar al gestuit het, bloot omdat hulle nie rekening gehou het met hoe wreed mense teenoor ander kan wees nie.
Ek onthou hoe die hoofkok in my weermagjare in Upington eendag grappenderwys teenoor my opgemerk het: “Dominee, jy weet – jy word een dag in ‘n week op die preekstoel beoordeel, maar ek word na elke ete beoordeel!”
Hierdie ervaring in Londen het my net weer laat besef dat daar tog mense is – en in dié geval was dit by uitstek jongmense – wat voor daardie Van Gogh werke gaan staan en kyk het na verfstrepe van die “meester” omdat sy pogings steeds vir meer as 100 jaar mense se verbeelding en psige aangryp. Ek wil graag glo dis omdat dit iets verteenwoordig van die GROOT MEESTER wat volgens Psalm 8 die mens op ‘n wonderbaarlike wyse aanmekaar geweef het in die skoot van ons moeders.
Die vraag is: “Wat in jou en my lewe is inspirerend vir ander om ons?”
Na ons reis het ek gewonder: “Wat tydens ons reis was vir my inspirerend? Maar dis toe dat ek na ons terugkoms verras word tydens ‘n kuiertjie by ‘n persoon hier in ons stad wat tans baie siek is. Nadat ons oor baie dinge gesels het, was my vraag aan haar: “Wat wil tannie vandag vir my sê?”
Toe kom daardie inspirerende moment: “Johan – al wat jy mee moet aangaan is om deur jou bediening mense aan Christus te verbind.
Dis wat saakmaak. Nie hoe jy hulle aan jou verbind nie, maar eerder hoe jy hulle aan Jesus Christus verbind!” Kan ek eerlik wees: “Soms is die mees inspirerende reis die een na jou bure, die kollega in die kantoor oorkant joune.
Die beste kritiek kom soms van jou grootste vyand! Laat dít jou en my inspireer om aan te hou, sodat die beste uit ons na vore kan kom!

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button