NewsNews

Groot gastehuis-optof vir die kassie

Dit is nie aldag dat ses gastehuise in en buite ’n dorp die eer kry om deel te wees van ’n  TV-leefstylprogram nie! Wat nog te sê die ongelooflike geleentheid om te kan mooi maak en opknap met die hulp van entoesiastiese borge. ’n  Projek van meer as R2 miljoen in totaal en dit alles …

Dit is nie aldag dat ses gastehuise in en buite ’n dorp die eer kry om deel te wees van ’n  TV-leefstylprogram nie! Wat nog te sê die ongelooflike geleentheid om te kan mooi maak en opknap met die hulp van entoesiastiese borge. ’n  Projek van meer as R2 miljoen in totaal en dit alles net vir Parys!
Die ses gastehuise vorm deel van die program, “Opgetof” wat op die VIA DSTV-kanaal 147 oor 13 weke in 24 minuut episodes uitgesaai sal word. Die program is vanaf  3 Oktober op die lug met die laaste episode wat in Januarie 2018 gebeeldsend sal word.
Die gastehuise wat die “optof” eer te beurt geval het is Casa Cara Lodge, Casa Cara Gastehuis, A La Maison, Rose Acres, Thabela Thabeng en Bahri Wedding Venue.
Die opwindende veranderings wat gedoen word by die gastehuise word gedoen aan die kunstige hand van Eugene en Rinet van Eugene Coetzee & Associates Interior Design & Decor wat naas kundige binnenshuise versierders, ook die aanbieders van “Opgetof” sal wees.
Ná fyn beplanning vir die produksie, is daar twee maande gelede ingespring met spanne wat begin het met die groot mooimaak in Parys.
Die gedagte agter “Opgetof” is om die bestaande en unieke karakter van elke gastehuis te gebruik om met dit wat daar is, iets nuut en selfs nog meer treffend en tydloos te skep.  Parys is nie verniet bekend vir sy natuurprag en gasvryheid waar dit kom by toerisme nie. Daarvan getuig die feit dat daar nie minder nie as 52 gastehuise in die dorp, en 120 gastehuise en gasteplase buite die dorp is, sover bekend.
Elmie van die produksiemaatskappy HiMom vertel opgewonde oor dié projek dat ’n  opgetofde gastehuis, ’n gastehuis met besigheid is. Daarom is gekyk na mense se behoeftes en sal dié program elke kyker, of jy nou in die gasvryheidsbedryf is aldan nie, blinknuwe idees gee hoe om mooi te maak met wat jy het, en dalk weer met ’n  ander oog na jou huis, gastehuis, hotel of besigheid se interieur te kyk.
Daardie iets wat jou bo ander laat uitstaan, en op die koop toe kry Parys bemarking as toerisme bestemming!
Verlede week was daar reeds hard gewerk by die gastehuis van Danie en Mida Taljaard by A La Maison in Kruisstraat. A la Maison beteken “At Home”. En dit is presies wat jy ervaar wanneer jy hier inboek by dié gastehuis in sy Georgiaanse boustyl.
’n  Plek waar jy kan vier in die private ruimte van die weelde van antieke onthou en Franse oordaad.
Die egpaar se passie in wat hulle doen het begin as ’n droom vir eendag wat heelwat gouer bewaarheid is. Vandag doen hulle met die uitsondering van die linne, alles self.  Elke ding in die gastehuis het ’n  geskiedenis, so kleurryk soos die ingenieurspaar se reise oor die wêreld heen.
Met die kennis wat Mida self in binnenshuise versiering opgedoen het danksy ’n  kursus, het sy die gastehuiskamers ’n  unieke Victoriaanse  voorkoms gegee, met ’n  tikkie Franse styl.
Nou sal daar opgetof word met selfs nog meer klem op die Franse styl veral in die twee nuwe kamers wat Danie en Mida vir die gastehuis aangebou het, en waar Eugene en Rinet kykers op hul stoele voor die kassie sal hou om te wys wat gedoen kan word! Selfs die hoofslaapkamer sal in ’n  wittebrood-suite omskep word saam met Eugene en Rinet.
Jay Cornelius van Stone Library is een van die geesdriftige borge van die projek wat ook reeds die gastehuis ’n  nuwe baadjie kom gee het met sy stylvolle “Cladding” keuse wat gekies is vir die “optof” en waarmee hulle besig was met Gazette se besoek.
Hou die Gazette dop oor die volgende paar weke wanneer ons jou meer vertel van die mooimaak keuses vir die gastehuise wat deel vorm van die produksie

Danie en Mida Taljaard in hul gastehuis A la Maison – een van die gastehuise wat deel vorm van die program. By A la Maison kan jy Victoriaans, en ’n tikkie Franse styl op sy beste waardeer. Die kaggelversiering (regs) is in tipies Franse styl.

 

 

Jay Cornelius (regs) van Stone Library, waar hy verlede Woensdag al aan die werk was met “cladding” by die A la Maison gastehuis in Kruisstraat. Gaan kyk gerus wat al hier gedoen is.

 

 

 

 

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button