NewsNews

Twee babalykies gekry – polisie ondersoek

Presies twee jaar nadat die Emunah Foundation en Wall of Life in Parys gestig is, het Parys verlede week ook deel geword van die harde werklikheid van weggooi babas waarvan getalle drasties oor die land styg. ’n Pasgebore baba is op 19 Julie verlate in ’n oop veld in die Tumahole-woonbuurt gekry. Die baba was …

Presies twee jaar nadat die Emunah Foundation en Wall of Life in Parys gestig is, het Parys verlede week ook deel geword van die harde werklikheid van weggooi babas waarvan getalle drasties oor die land styg.
’n Pasgebore baba is op 19 Julie verlate in ’n oop veld in die Tumahole-woonbuurt gekry. Die baba was reeds dood, en die ma is later deur die polisie opgespoor.
Op 20 Julie het die polisie ’n  anonieme oproep ontvang met inligting, en is nog ’n  babalykie in ’n  vlak graf in ’n  erf in Tumahole gekry. Dit was klaarblyklik ’n  aborsie, en ondersoek die polisie tans die saak.
Sedert Februarie vanjaar het Gazette al by verskeie geleenthede berig oor babas wat weggegooi is, onder meer ook in die Vaaldriehoek, Potchefstroom en elders in die land.
So was daar die baba van maar een dag oud wat gered is ná sy in die reën langs die Puma-stadion in Witbank gelos is. Kort daarna is ’n pasgebore baba in Mei vanjaar op Joe Slovo-rylaan in Berea, Johannesburg, gevind. Net ’n  paar dae later het die skokkende voorval bekend geword waar die liggaam van ‘n pasgebore babaseuntjie op 3 Mei in ‘n asblik buite ‘n winkelsentrum in Pietermaritzburg gevind is. En toe skaars ’n  week gelede ’n  baba in ’n  asblik in Pretoria.
* Onthou die Emunah Foundation in Parys beskik oor ’n  Wall of Life vir moeders wat nie instaat is om na hul baba om te sien nie, en voel dat daar geen ander uitweg is nie.
Die egpaar Colin en Sonja Viljoen het in Julie 2015,  die Emunah Foundation in Parys gestig as nie-winsgewende maatskappy. Die afgelope jaar het hierdie egpaar met hul toewyding om verwaarloosde, weggegooide en mishandelde kinders te help, reeds ’n verskil in 15 jong lewens gemaak. Tans is daar drie babas in hul sorg wat nog wag op die afhandeling van aannemingsprosedures.
Die Viljoens het die groot nood raakgesien van slagoffers van huishoudelike geweld en ander omstandighede wat te midde van die trauma geen veilige heenkome het, dikwels juis na-ure en oor naweke.
Deel van Emunah Foundation is ook ’n Wall of Life-projek om aborsies en pasgeborenes wat agtergelaat word op plekke soos vullishope, in toilette ensovoorts, te help voorkom. Die Wall of Life is in Schilbachstraat 81.
Die Wall of Life-projek is aanvanklik deur ’n polisielid, wyle Michelle Stephenson van Vanderbijlpark begin met die Jessica’s Wall of Life projek. Sy is in 2006 as polisielid uitgeroep na ’n vullishoop waar sy gekonfronteer is met die harde werklikheid van ’n baba wat weggegooi is op ’n vullishoop.
Met soveel deernis het sy die babalykie uitgehaal en toegesien dat sy met waardigheid begrawe is soos haar eie kind. Daar het die gedagte posgevat om seker te maak dat elke baba eerder die kans op lewe sou hê as ’n aborsie of om weggegooi te word deur ’n ma wat moontlik voel dat sy geen ander opsie het nie.
Twee jaar later, in 2008, is Jessica’s Wall of Life in Vanderbijlpark opgerig en twee jaar daarna het sy die eerste oproep van die hospitaal gekry van ’n baba wat hier geplaas is.
Die Wall of Life is ’n “kluis” met ’n voor- en agterdeur. Sodra die voordeur oopgemaak word om die baba in die kluis te plaas, gaan ’n alarm af by die hospitaal of plek waar die muur is, sodat daar dadelik aan die baba aandag gegee kan word. Ultra-violet ligte binne die kluis maak seker dat die temperatuur gunstig is vir die baba.
Die baba word dan deur versorgers soos die Viljoens versorg totdat ’n geskikte tuiste gekry kan word deur die regte kanale te volg.
Emunah Foundation is suiwer afhanklik van die goedhartige skenkings en bydraes van die gemeenskap om die werk te kan volhou wat hulle doen. Daar is veral ’n  nood aan fondse om die dag-tot-dag uitgawes van Emunah te dra, asook ’n  Wendy-huis met stapelbeddens en ’n  7-sitplek bussie.
Mense wat kan help kan die volgende bankbesonderhede gebruik: Emunah Foundation NPO, Standard Bank, takkode 051001, besigheidsrekeningnommer:  042317983.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button