NewsNews

Hierdie kaart kan ’n ander help

Het jy geweet dat die Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) Voedingskema se Sopkombuis in die 2016/17 finansiële jaar altesaam 8 241 maaltye aan sowat 38 persone per dag voorsien het oor ’n  tydperk van 12 maande? Dat die ouderdomme van mense wat op die manier gehelp is, gewissel het van kleuters tot bejaardes? So is …

Het jy geweet dat die Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) Voedingskema se Sopkombuis in die 2016/17 finansiële jaar altesaam 8 241 maaltye aan sowat 38 persone per dag voorsien het oor ’n  tydperk van 12 maande? Dat die ouderdomme van mense wat op die manier gehelp is, gewissel het van kleuters tot bejaardes?
So is ook die 466 brode wat ontvang is met Broodjiedag verlede jaar, versprei na waar daar nood is.
Hierdie hand van hulp na hulle in nood is net moontlik danksy skenkings. Skenking van mense wat gereeld help met groente, nie-bederfbare voedsel en selfs joghurt. Daarsonder kan hierdie organisasie nie die werk doen wat hulle tans in die gemeenskap doen nie. Hierdie werk sluit hulp op vele terreine in – van bejaardes, tot ontwikkeling en bemagtiging, maatskaplike dienslewering en die bestryding van alkohol en dwelmmisbruik.
Om hierdie dienste te kan lewer, het die afgelope boekjaar uitgawes van R1 804 349 beloop. Die organisasie se inkomste vir die afgelope boekjaar wat bestaan het uit subsidie, fondsinsamelings, donasies en rente uit ’n  belegging, asook ’n bedrag van die Lotto, het net R1 646 363 beloop.
Hoe kan jy help om seker te maak dat ons gemeenskap gehelp kan word deur VVA?
Een manier is die voedselkaart wat tans slegs plaaslik beskikbaar is by die VVA kantoor in Buitenstraat 18. Hierdie kaart bied aan die ontvanger geleentheid om op waardige wyse voedsel en ander noodsaaklike items, soos toiletware, aan te koop volgens eie keuse. Aalmoese soos kospakkies bring mee dat armes nie beheer oor hul eie basiese behoeftebevrediging het nie.
Hierdie kaart maak dit vir instansies en individue egter nou moontlik om hulp te verleen sonder dat die betrokke persoon/e gebrek aan eie waarde ervaar.
Hoe werk die voedselkaart?
1. VVA en ander hulpverlenende instansies:
Die VVA gebruik die kaart om, wanneer nodig, aan sy reeds geregistreerde/of nuwe kliënte deur die maatskaplike werker gekeur, hulp te verleen in plaas van kospakkies. Kontant donasies vir noodleniging of ’n bedrag spesifiek vir ’n voedselkaart/e geskenk aan VVA, of andersins ‘n bedrag uit eie VVA fondse beskikbaar gestel, word by Shoprite, Checkers of Usave op die kaart gelaai deur die VVA.
Die kaart word dan aan die begunstigde gegee om aankope mee te doen by enigeen van hierdie drie handelspunte. Die persoon bring die kaart met bewysstrokies van aankope aan die VVA terug. Die kaart kan hergebruik word totdat al die krediet daarop gelaai, opgebruik is. Dit kan dan weer herlaai word. Solank die kaart nie gelaai is nie, het dit geen geldwaarde nie.
Ander instansies, ook kerke, wat by hulpverlening betrokke is, kan ook van die voedselkaart gebruik maak. Indien verkies, kan hulle op dieselfde wyse as die VVA kontrole uitoefen. Die kaart word gratis aan hierdie liggame beskikbaar gestel deur die VVA.
2. Lede van die publiek:
Aangesien hierdie kaart net soos ’n gewone geskenkkaart werk, kan ’n persoon wat dit wil gebruik om aan ’n behoeftige te gee, die kaart gratis by die VVA kantoor verkry. Die skenker neem dit dan na Shoprite, Checkers of Usave en laai die bedrag wat hy beskikbaar wil stel, daarop. Dan kan die betrokke ontvanger daarmee aankope gaan doen by enigeen van hierdie drie handelspunte.
As die skenker en ontvanger mekaar ken, kan hul ooreenkom dat die kaart weer aan die skenker teruggegee word vir verdere gebruik op dieselfde wyse.
As ’n lid van die publiek die kaart aan iemand wil gee wat nie aan hom/haar bekend is nie, moet hy/sy die kaart met die bedrag geld van sy /haar keuse daarop laai, by een van die bogenoemde handelspunte waar die begunstigde dan aankope kan doen. Nadat die begunstigde die kaart ontvang het van die skenker, het laasgenoemde nie verdere beheer daaroor nie. As die krediet op die kaart opgebruik is, kan dit slegs deur dit met geld te herlaai, verder gebruik word. Andersins het dit geen geldwaarde nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button